Die Beskaamdheid wat Oorwin
Die rede waarom God gereeld in sy Woord beklemtoon dat ons identiteit van Hom af kom, is omdat ons eie verstandelike vermoëns uiters onbetroubaar is. Die geskiedenis wys vir ons dat die menslike intellek verstommend is in wat dit kan verbeel, onderskei en skep. Ten spyte daarvan, is ons dikwels nie in staat om woorde en gedagtes wat ons besoedel en verswak, uit te skakel nie.
Ek het verlossende beskaamdheid wat tot herstel lei in ander oordenkings bespreek, maar daar is 'n donker kant aan beskaamdheid. Daardie nare gevoel van om nie goed genoeg te wees nie, is een van Satan se dodelikste wapens. Dit word dikwels die eerste keer teen ons ontplooi wanneer ons jonk en kwesbaar is en beide goedkeuring en afkeuring soos klein sponsies opsuig. Harde woorde wat met 'n kind gepraat word, kan dwarsdeur 'n leeftyd weergalm, en dit kan veroorsaak dat ons onsself uit baie van die lewe se seëninge praat. Om stille verwyte, mishandeling en verwaarlosing te ervaar, kan later in die lewe tot gebroke verhoudings en swak gesondheid lei. Al hierdie dinge kan ons vermoë belemmer om God se liefde en genade en genesing te ontvang.
Die vyand werk hard om hierdie lopende narratief van ons waardeloosheid geheim te hou. Binne die grense van ons verstand kan onuitgesproke beskaamdheid dan groei sonder teenstand en sonder God se goddelike perspektief.
'n Paar jaar gelede het ek by 'n pastoorskonferensie gepraat met ongeveer 2500 mense wat dit bygewoon het. Een aand, nadat ek oor die onderwerp van beskaamdheid en verwonding gepraat het, het ek 'n altaaroproep gegee. Tot die verbasing van almal op die verhoog het minstens driekwart van die gemeente soos 'n vloedgolf vorentoe gekom. Ek het deur die skare gestap en saam met mense begin bid en gesels, en hulle hartseer en trane het my hart gebreek. Hoewel pynlik en hartseer, was hierdie oomblik ook 'n duidelike deurbraak wat hulle hoop gegee het. Terwyl hulle stories vrylik uitgekom het, kon ek sien dat die beskaamheid wat hulle jare lank in die duisternis gehou het, uiteindelik die lig van Jesus se genesende, onvoorwaardelike liefde ontmoet het.
Toe Jesus gesê het: “Ek is die lig van die wêreld” (Johannes 8:12), was Hy nie passief nie. Lig poog aggressief om duisternis te verlig, om perspektief te suiwer en reg te stel. Wanneer ons ons beskaamdheid en verwronge denke na God toe neem, herinner Hy ons daaraan dat Hy ons beskou as sy wonderlike vakmanskap, wat Hy volkome waardig gemaak het vir verlossing. “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe” (Jesaja 43:4). Sy ewige siening van ons, nie ons eindige een nie, is ons ware identiteit.