David Wilkerson (1931-2011)

"En ek wil hê dat julle moet weet, broerders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het” (Filippense 1:12, AFR53).

In hierdie vers, sê Paulus aan die Christene in Filippi om nie bekommerd te wees oor al die dinge waarvan hulle gehoor wat met hom gebeur het nie. Alles waarna hy verwys, sluit groot verdrukking en swakhede in.

Paulus het die brief geskryf terwyl hy geboei in ‘n Romeinse tronk was. Teen hierdie tyd in sy bediening, was hy ‘n geoefende krygsman van die evangelie, wat elke denkbare ontbering en menslike verdrukking moes deurmaak. As jy Paulus se lewe bestudeer, sal jy weet wat hy alles moes deurmaak: skipbreuk, mishandeling, houe en slae, skeltaal, bespotting, vervolging, honger, dors, naaktheid en skending van sy karakter. Dit het gelyk asof oral waarheen Paulus gegaan het, hy verdrukking, swaarkry en hartseer teëgekom het.

Nogtans het Paulus gesê: “Maar ek bekommer my glad nie” (20:24). Verder het hy gesê: “Sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukking nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet” (1 Thessalonicense 3:3-4).

Paulus het hierdie gelowiges gerusgestel deur te sê: “Ek het julle nog die hele tyd gesê dat as julle saam met Jesus gaan wandel, sal julle verdrukking ly. Nou dat hierdie verdrukking oor my gekom het, waarom is julle so verras? Dit is ons bestemde lot in die lewe”.

Probeer jou hierdie prentjie voorstel: Hier was ‘n heilige man, deur God geroep om die evangelie na die nasies te neem. Tydens elke opdrag het die Heilige Gees aan hom gefluister dat die volgende stop nie maklik sou wees nie. Hy sou weer teenstand kry en sou meer swaarkry en beproewing en lyding beleef.

Vir my is hierdie man se lewe fenomenaal. Kan jy jou dit indink? Paulus het swaarkry en verdrukking beleef om elke draai. Op hierdie stadium mag jy dalk sê: “Wag so ‘n bietjie, jy praat van Paulus se lewe, nie myne nie. God het hom aangestel om vervolging te ly. Ek is nie geroep vir so ‘n lewe nie”. Verkeerd! Die Bybel sê: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20).

Die frase “menigvuldig is die teëspoede” is nie net op Paulus van toepassing nie, maar ook op ons. Ons hou daarvan om die laaste gedeelte van die vers te hoor, maar verheug ons onsself in die eerste gedeelte? Soos Paulus, laat ons bly wees as ons ‘n beproewing of verdrukking beleef wanneer die einddoel die bevordering van die evangelie van Christus is.