Die Dapperheid van ‘n Leeu

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus Christus het vir my ‘n erfenis nagelaat en ek eis dit op as myne. Die Skrif sê: “Die regverdige voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:11, AFR53). As jy hierdie waarheid van die volmaakte geregtigheid van Christus kan aanvaar, sal jy die moed hê van ‘n leeu. Jy sal nooit enige persoon vrees nie. Jy sal nooit na iemand se lewe kyk en onwaardig voel nie. Jy sal kan sê: “Ek het die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus wat aan my gegee is deur geloof! Nee, dit is nie myne nie. Dit is syne, maar dit is aan my toegereken deur Jesus Self, sodat ek dit my eie kan noem!”

Dit is tyd om jou stryd te laat staan. As die duiwel na jou toe kom en sê: “Jy is niks werd nie, jy het geen geregtigheid nie”, kan jy antwoord: “Natuurlik is ek niks werd nie. Natuurlik het ek geen geregtigheid in myself nie, maar ek het wel die geregtigheid van Jesus Christus. Ek het God teleurgestel. Maar ek het ‘n advokaat by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”

Wanneer jy voor die Here staan, sal jy nie hoef te bewe en dink: “Wat gaan ek Hom aanbied nie? Wat het ek reg of verkeerd gedoen?” nie. Nee – jy sal dink: “Ek het niks in myself om vir Hom aan te bied nie omdat ek sy geregtigheid het deur geloof!”

Beteken dit Christene is nie verplig om goeie werke te doen nie? Geensins. Regverdigmaking en vryspraak deur geloof en die toegerekende geregtigheid van Christus stel die siel vry om in heiligheid te lewe en goeie dade te doen. Goeie dade wat gedoen word met slaafagtige vrees bring geen eer aan God nie; dit moet spruit uit ‘n liefdevolle hart. Om in ware heiligheid te wandel is slegs moontlik vir diegene wat hulle erfenis, Christus se volmaakte geregtigheid, in besit geneem het, omdat hulle nie langer gevange gehou word deur vrees en veroordeling nie.

Sy volmaakte geregtigheid is myne deur geloof en nou is ek vry en vrygestel om Hom te dien as ‘n slaaf van liefde. Nou, deur die krag van die Heilige Gees, wat belowe is in die Nuwe Verbond, keer Hy my weg van alle ongeregtigheid en bemagtig my om die geregtigheid wat Hy aan my toegereken het, uit te leef.