Die Hart van die Profete

David Wilkerson (1931-2011)

As ek lees van die ondernemings van godvresende mense in die Ou Testament, brand dit in my hart. Hierdie diensknegte het so ‘n las vir God se Naam gehad dat hulle kragtige dade, wat die verstand van meeste Christene vandag te bowe gaan, gedoen het.

Die gelowiges van ouds was rotsvas in hulle weiering om vorentoe te beweeg sonder ‘n boodskap van God. Hulle het vir dae aaneen geween en gerouklaag oor die afvallige toestand in sy huis. Hulle het geweier om te eet, te drink of hulle liggame te was. Die profeet Jeremia het selfs op sy sy in die strate van Jerusalem gelê vir 365 dae, terwyl hy voortdurend gewaarsku het oor God se naderende oordeel.

Ek wonder, waar het hierdie gelowiges die geestelike gesag en stamina gekry om alles te doen wat hulle gedoen het? Hulle was manne van ‘n totaal ander soort as diegene wat ons vandag in die kerk sien. Ek kan eenvoudig nie myself vereenselwig met hulle en hulle wandel nie. Ek weet ek is nie heeltemal hulle soort nie. Ek ken nie een Christen wat is nie.

Dit bekommer my. Die Bybel sê hierdie manne se Ou Testament ondernemings was opgeteken as lesse vir ons: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11, AFR53). Hulle stories is bedoel om vir ons te wys hoe ons God se hart moet aanraak of hoe om ‘n verdorwe volk tot bekering te bring.

Was hierdie gelowiges spesiale soort mense? Was hulle supermanne met ‘n voorafbepaalde lot, toegerus met bonatuurlik kragte wat onbekend is aan ons geslag?

Glad nie. Die Bybel sê uitdruklik dat ons goddelike voorgangers mense net soos ek en jy was, onderworpe aan dieselfde begeertes van die vlees (sien Jakobus 5:17). Trouens, dit is hulle voorbeeld wat vir ons ‘n patroon openbaar om te volg. Die Skrif sê: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag” (Esra 7:10). Lank voor God sy hand op Esra gelê het, was hierdie man pligsgetrou om die Skrifte te ondersoek. Hy het toegelaat om daardeur ondersoek te word, daardeur gewas en gereinig te word in liggaam en gees. Esra het toegelaat dat die Skrif sy hart voorberei vir enige werk waarvoor God hom uitverkies het. Dit is waarom die Here sy hand op Esra geplaas en hom gesalf het.

Hierdie mense het toegelaat dat die Skrif ‘n karakter in hulle bou wat veroorsaak het dat God sy hand op hulle geplaas het. Dit is waarom Hy hulle uitverkies het om sy planne uit te voer, en Hy dring vandag ons om dieselfde karakterkwaliteit te soek.