Die Kerk van Sion

David Wilkerson (1931-2011)

Die dryfkrag agter Dawid se kerk was totale afhanklikheid van die Heilige Gees. “Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Samuel 16:13).

Toe Dawid op sy sterfbed was, het hy vir sy seun Salomo gesê: “Ek wil vir jou sê hoekom God my geseën het. Ek wil hê jy moet die geheim van my bediening weet.” Luister na Dawid se laaste woorde aan sy seun. “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Samuel 23:2). Dawid het gesê: “Ek het nie op my kennis en wysheid vertrou nie. Ek het in geen deel van my vlees vertrou nie. Ek was 'n swak man, maar ek was afhanklik van die Heilige Gees! Elke woord wat ek gespreek het, was onder sy salwing. Sy woorde het my mond gevul.”

Toe ons die bedieningsdeure by Teen Challenge hier in New York City oopgemaak het, was ons leuse "Die Heilige Gees is hier in beheer". Dit was nie “how to cope”-prediking wat bendelede gered het nie. Hulle het nie op hul knieë neergeval omdat ons spitsvondige, pittige preke gepreek het nie. Hulle het nie onder sondebesef gekom deur middel van puntsgewyse illustrasies en natuurverhale nie. Nee, hierdie voormalige dwelmverslaafdes het teenoor hul vriende getuig, “Ek was eers op straat soos jy, maar kyk nou na my! Die Gees van God het my verander.”

Salomo het gepraat van bome, hisop, diere, visse, kruipende diere; maar Dawid het gepraat van intimiteit met die Here, van gebrokenheid en berou. Dawid het deur sy eie prediking onder sondebesef gekom en is verander. Hy het die teenwoordigheid van die Heilige Gees in sy lewe so waardeer dat hy die Here gevra het om nooit sy Gees van hom af te neem nie. Dawid het geweet hy is niks sonder die Heilige Gees nie.

Die apostel Paulus het saamgestem toe hy gesê het: “En my woord en my prediking was nie met oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van Gees en van krag, sodat julle geloof nie in die wysheid van mense bestaan nie, maar in die krag van God” (1 Korinthiërs 2:4-5). “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer... Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid; en hy kan nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:13-14).