Die Kosbaarste Geskenk

David Wilkerson (1931-2011)

Die bloed van Jesus is die kosbaarste geskenk wat ons hemelse Vader vir sy kerk gegee het, maar min Christene verstaan die waarde daarvan.

Christene sing dikwels oor die krag van die bloed. Een van die bekendste gospel liedere lui: “Daar is krag, krag, wonderbare krag in die bloed van die kosbare Lam”. Die meeste gelowiges eïen selde daardie krag van die bloed toe, waarskynlik omdat ons eenvoudig nie die groot betekenis daarvan verstaan nie. Byvoorbeeld, ons “pleit die bloed” heeltyd as een of ander soort mistiese formule van beskerming, maar min Christene kan die groot heerlikheid en voordele daarvan verduidelik. 

As ek vir jou sou vra wat die bloed beteken, sal jy dalk antwoord: “Dit beteken al my sonde is vergewe en ek is vrygespreek”. Buiten vergifnis, wat beteken die bloed van Jesus Christus vir jou nog? Kan jy aan jou familie of vriend of kollega verduidelik wat die waarde en betekenis van die bloed van Jesus is?

Laat my vir jou die voordele noem wat uit die bloed van Jesus vloei.

1. Jesus se bloed verlos ons van sonde en die mag van die duisternis . “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Efésiërs 1:7, AFR53). Ons is nie langer onder veroordeling nie.

2. Jesus se bloed het die hele kerk van God gekoop. “Die gemeente van God...wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).

3. Jesus se bloed breek alle mure af. “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efésiërs 2:13-14).

4. Jesus se bloed heilig ons. “En die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 John 1:7).

5. Christus se bloed oorwin Satan. “En hulle het hom [die duiwel] oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis” (Openbaring 12:11).

6. Die bloed gee vir ons toegang tot die Allerheiligste en tot ons hemelse Vader. “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus” (Hebreërs 10:19).

Deur die bloed van Jesus kan ons met vrymoedigheid na ons hemelse Vader gaan sonder vrees!