Die Krag van ‘n Onberispelike Lewe

David Wilkerson (1931-2011)

“Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik om ons gedra het teenoor julle wat glo” (1 Thessalonicense 2:10, AFR53).

Dit is ‘n kragtige stelling om te maak. Om God te roep as ‘n getuie tot jou heiligheid! Sonder om te blik of te bloos, het Paulus voor gelowiges in Thessalonika geroem: “My medewerkers en ek het onberispelik voor julle en voor God gelewe. Ons gedrag was regverdig en rein. God is ‘n getuie van ons heilige optrede en julle is ook getuies. Julle het gesien ons leef heilig en onberispelik voor God en mense.”

Paulus was ‘n effektiewe prediker en hy het die geheim geken om mense na God te trek. Hy kon met vrymoedigheid teenoor elke lewende siel staan en getuig: “Ek leef daagliks onder die oë van ‘n heilige God. Ek leef altyd asof sy heilige oë op my is en julle is almal getuies van my onberispelike lewe!”

Die apostel het ‘n passievolle begeerte gehad dat elke gelowige dieselfde krag sou hê. Hy het dag en nag gebid dat al God se kinders hulle lewens heilig en onberispelik voor God sou leef. “Sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thessalonicense 3:13).

Die ryk jongman wat na Jesus gekom het, het sedert sy jeug goed gedoen en daardie goedheid het vir hom die liefde en respek van Jesus gewen (sien Matthéüs 19:16:20). Iets het egter ontbreek en daardie een ding het die verskil gemaak. Vriend, as jy nie dieselfde strewe het wat alles wat jy sê en doen aanvuur nie, sal jy nooit onberispelik voor God en mense wees nie: “Sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word” (2 Thessalonicense 1:12). Goedheid alleen sal ons nie vir ons die ewige lewe gee of ander na Christus trek nie. Ons moet die Heilige Gees werkend in en deur ons hê om God te verheerlik!

Dit is wat Paulus gemotiveer het om ‘n onberispelike lewe te lei: Hy het groot ywer gehad vir die eer en Naam van Jesus! Hy het geweet alles moes op daardie fondament gebou wees omdat alle menslike goedheid soos vuil verflenterde klere is. Wat die onberispelike lewe onderskei, is ‘n verterende begeerte om die Naam van Jesus voor alle mense te verheerlik.