Die Krag van Geloof
God se Woord sê vir ons dat Christus vir die sonde van die mensdom betaal het met sy eie bloed aan die kruis. Hy het ‘n sondelose lewe geleef, die wet in elke aspek onderhou; en Hy het die wet volbring, die vloek weggeneem, ons vrygekoop van die aansprake van die hel en die duiwel, en Hy sal ons voor die Vader sal stel met volmaakte geregtigheid.
Die Woord gaan verder en sê vir ons dat ons Christus se volmaakte geregtigheid aan ons toegereken kan hê, en dat God ons sal beskou as volmaak vrygespreek en regverdig in Jesus as ons net sal glo wat Hy vir ons bewerkstellig het. Verstaan asseblief dat ek praat van diegene wat hulle van hul sondes bekeer het.
O, my vlees deins terug oor die eenvoud en gemak van dit alles! Die vlees roep uit: “Nooit! Dit kan nie so maklik wees nie. Ek moet help; ek moet iets betaal. Ek het immers steeds probleme in my lewe. Ek stry steeds teen sonde. Ek het nog nie by ‘n plek gekom waar ek glo God is tevrede met my nie. Ek kan nie van Hom verwag om my regverdig te ag, terwyl ek steeds soveel dinge het wat kan verbeter nie. Ek moet eers myself regkry”.
Daar mag sekerlik trane aan ons kant wees. Ons moet verneder en gebreek word, maar ‘n rivier van trane alleen sal niemand red nie. ‘n Leeftyd van stryd sal niemand red nie. God sê, “Dit moet uit genade deur geloof wees. Geen vlees sal roem in God se teenwoordigheid nie!”
* “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Romeine 1:17, AFR53).
* “Want ons verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop” (Galásiërs 5:5).
* “...geregtigheid...wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:9).
My geloof moet uitstyg bo al my vrese, sataniese leuens, gevoelens, omstandighede en rus in wat God se Woord sê. En Sy Woord sê dat deur bekering en geloof in Christus, kyk Hy na my asof ek die volmaakte geregtigheid van Jesus het. Hy aanvaar my “in die geliefde” as heilig en regverdig!
O, wat ‘n wonderlike ding is die krag van geloof!