Die Laat Reën

David Wilkerson (1931-2011)

Die plant- en oesseisoene in antieke Israel was anders as wat ons in die Weste sou verwag. Die eerste reën wat die grond sag gemaak het, het van Oktober tot Desember geduur, net voor die plantseisoen. Die laaste reën het die oes tussen Maart en April ryp gemaak, net voordat dit gemaai word. Die profeet Sagaria gebruik die reën as 'n metafoor vir God se voornemens vir Israel.

“Ook sal Ek in dié dag ... oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind”(Sagaria 12:9-10, AFR53).

Hier sien ons dat Sagaria in die laaste dae 'n uitstorting van die Heilige Gees voorspel. 'n Soortgelyke uitstorting word in Joël 2 beskryf wat volgens my, Pinkster is. “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet” (Joël 2:28-29).

Dit is presies wat op die Pinksterdag gebeur het! Die Heilige Gees het soos 'n vloed in die bo-kamer in Jerusalem neergereën, en dit het deur die eeue heen bestendig voortgeduur. God se kinders word al byna 2000 jaar lank daardeur verkwik. Jesaja verwys daarna as “'n wingerd van skuimende wyn...Ek, die Here, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie” (Jesaja 27: 2-3).

Die twee uitstortings in Sagaria en Joël is die eerste (vroeë) en laaste (laat) reën: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel” (Deuteronómium 11:13 -14).

Die werk van die Gees is altyd gefokus op die oes van kosbare siele. Deur die geslagte heen is die begeerte van God om ons na Hom terug te bring en te verlos, vir almal wat wil kom.