Die Troos van Christus

David Wilkerson (1931-2011)

Geluk beteken nie om sonder pyn of hartseer te leef nie. Ware geluk is om te leer hoe om een ​​dag op 'n slag getrou en minsaam te lewe ten spyte van hartseer en pyn. Dit is om te leer hoe om jou in die Here te verbly, maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie. Jy voel dalk verwerp en verlate. Jou geloof is dalk swak, en jy dink jy is platgeslaan. Hartseer, trane, pyn en leegheid oorweldig jou soms, maar God is steeds op die troon. Hy is steeds die Here die Almagtige!

Jy kan nie jouself help of die lyding stop nie, maar ons geseënde Here sal na jou toe kom. Hy sal sy liefdevolle hand onder jou plaas, jou optel en weer in hemelse plekke neersit. Hy sal jou verlos van die vrees om te sterf en Hy sal sy eindelose liefde aan jou openbaar.

Kyk op! Bemoedig jouself in die Here. Die Skrif sê: “Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons ​​troos ook oorvloedig deur Christus” (2 Korintiërs 1:5, AFR53).

Wanneer die newels jou omring en jy geen uitweg uit jou dilemma kan sien nie, leun terug in die arms van Jesus en vertrou Hom eenvoudig. Hy wil jou geloof en jou vertroue hê. Hy wil hê jy moet hardop uitroep, “Jesus het my lief! Hy is by my. Hy sal my nie in die steek laat nie. Hy is besig om alles uit te werk. Ek sal nie platgeslaan word nie. Ek sal nie 'n slagoffer van Satan wees nie. Ek sal nie my verstand of my rigting verloor nie. God is aan my kant. Ek is lief vir Hom en Hy is lief vir my!”

Die slotsom is geloof en jou geloof kan op hierdie Woord rus: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan ​​in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE” (Jesaja 54:17).

Oortuig jouself dat jy sal oorleef. Leef of sterf, jy behoort aan die Here. Jy sal deur lyding kom. Die lewe gaan wel aan, en dit sal jou verbaas hoeveel jy met God se hulp kan verdra.