Die Verlosser in die Storm

David Wilkerson (1931-2011)

Die grootste gevaar wat ons almal beleef, is om Jesus nie in ons probleme te kan sien nie. In plaas daarvan, sien ons spoke. In Matthéüs 14, het Jesus sy dissipels beveel om in 'n boot te klim wat op pad was na 'n storm. Die Bybel sê dat Hy hulle voor Hom laat uitgaan het op ‘n boot wat Hy sekerlik geweet het op pad was na onstuimige waters. Dit sou soos 'n kurkprop rondgeslaan word, maar waar was Jesus? Hy was bo in die berge wat oor die see uitgekyk het. Hy het gebid en sy Vader in afsondering gesoek en toe het Hy in die donkerste ure van die nag op die meer uitgestap om die dissipels tegemoet te gaan.

‘n Mens sou dink dat ten minste een dissipel sou besef het wat besig was om te gebeur en gesê het: “Jesus het gesê dat Hy ons nooit sal verlaat of ons sal begewe nie. Hy het ons op hierdie sending gestuur; ons is in die middel van sy wil. Hy het gesê dat die treë van 'n regverdige man deur God bepaal word. Kyk weer. Dis ons Here! Hy is net hier! Ons was nog nooit een keer onder sy oë uit nie.”

Nie een dissipel het Hom egter herken nie. Hulle het nie verwag dat Hy in hul storm sou wees nie. Hulle het nooit verwag dat Hy by hulle of selfs naby hulle sou wees nie, maar Hy het wel gekom en op die water geloop.

Daar was net een les om uit hul ervaring te leer. Dit was 'n eenvoudige les, nie 'n diep, mistieke, aardskuddende een nie. Jesus wou eenvoudig vertrou word as hulle Here in elke storm van die lewe. In daardie spitsoomblik van vrees wanneer die nag die swartste is en die storm die kwaaiste is, kom Jesus altyd na ons toe om Homself te openbaar as die Here van die watervloed, die Verlosser in storms. Psalm 29:10 sê: "Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid."

Christus wil hê dat sy volgelinge hulle vertroue in die Here, hulle aanbidding van God se heerlikheid en hulle broederliefde vir mekaar moet kan behou, selfs in die donkerste ure van hulle beproewings. Dit is hoe die Skrif sê: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in verdrukking; volhard in die gebed” (Romeine 12:10-12, my beklemtoning).