Dien God met Blydskap

David Wilkerson (1931-2011)

God wil hê dat ons so oortuig moet wees van sy tere liefde, so oortuig dat Hy besig is om ons in sy beste in te bring, dat ons voortdurende vreugde en blydskap sal hê in ons wandel met Hom. Moses het Israel gewaarsku: “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek van alles” (Deuteronómium 28:47-48).

God sê vandag vir ons: “Wees bly en juig vir wat Ek alreeds vir julle gedoen het! As julle rondloop en kerm en kla, sal julle vir ewig geestelik uitgehonger en naak wees, slagoffers van julle vyande.” God wil hê dat ons so op sy liefde vir ons moet vertrou dat ons getuienisse van blydskap en goeie moed sal wees. Hy wil gelowiges hê wat van harte bly is, gevul met 'n blydskap wat op waarheid gebaseer is.

Sy waarheid bring 'n rykdom van blydskap voort wat natuurlik uit die hart stroom: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel” (Psalm 100:2). “En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel” (Psalm 105:43). “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11). “Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap” (Psalm 68:4).

Jy mag dalk vra: “Hoe lank kan ek verwag om vreugde te behou in my diens aan die Here?” Baie glo dat dit net so lank duur as seisoene van verfrissing van bo af kom of solank dinge reg verloop. 

Nee, ons moet te alle tye vreugde hê! Dit is presies wat die Bybel sê. "Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae!" (Psalm 90:14). “Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:18). Ons is "die Jerusalem van bo", wedergebore en leef vir Hom met 'n gees van vreugde en blydskap. Vertrou die Vader, glo sy Woord oor Homself, en sien hoe sy blydskap uit jou lewe stroom.