Ek is Jou Beloning

David Wilkerson (1931-2011)

“Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom” (Genesis 15:1, AFR53). Hierdie vers beteken basies dat nadat Abram beangs rondgekyk het na die vyande rondom hom, nadat hy moedeloos gevoel het omdat hy geen vordering gemaak het nie, het die Woord van die Here na hom gekom.

Die eerste ding wat God vir Abram gesê het, was “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou `n skild en jou loon is baie groot” (dieselfde vers). In hierdie een vers het God ons die geheim gegee van die grootste seën wat enige gelowige ooit kan hê. Die betekenis vir skild hier in Hebreeus is "beskermer, verdediger". God sê: "Ek sal vir jou veg, en Ek sal jou kampioen wees".

Die Here sê in wese vir Abram: “Toe, kyk na al daardie leërs wat jou omsingel. Niemand kan aan jou raak nie, want Ek is jou beskermer. Vertrou jou lewe en toekoms aan My toe”. Boonop sê hierdie vers vir ons dat die Here vir ons baie meer as 'n skild is. Hy is ook ons baie groot beloning. God sê vir Abram: "Jy sal jou seun kry, en hy sal vir jou 'n vreugde wees, maar Ek sal die een wees wat in jou diepste behoeftes voorsien".

God weet alles van die menslike natuur af. Hy het geweet dat Abraham (soos God hom later herdoop het) 'n groot mate van vreugde sou beleef wanneer sy seun gebore sou word. Abraham kon toe sê: “God het dit gedoen! Hy het dit aan my belowe, en Hy het sy woord nagekom”. Tog het God ook geweet dat Abraham nie heeltemal vervul sou wees wanneer die kind kom nie. Hy sou steeds 'n innerlike verlange hê, 'n rusteloosheid, 'n onverklaarbare behoefte wat geen mens sou kon vervul nie.

Is dit nie wat met ons gebeur as ons uiteindelik die ding kry wat ons so graag wou hê nie? Die hele tyd dink ons: "As ek net hierdie een ding kan kry, sal ek gelukkig wees. Dit sal my lewe wonderlik maak en al my probleme laat ophou”. Nee, dit sal nie! Net die Here self kan ons diepste behoefte ten volle bevredig. Ons Hoëpriester sê: “Die geheim van my seën is dat dit Ek is waarna jy soek. Ek is jou antwoord, jou seën en jou beloning”.