Om Geloof te Vind Tydens Verwarring

Gary Wilkerson

“Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek...want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Romeine 7:15,18, AFR53).

Voel jy dikwels so? Welkom by die klub.

Paulus se Damaskus bekering het nie ‘n beproewingvrye lewe gewaarborg nie. Bykomend tot die vure van vervolging wat sy bediening wou vernietig, was hy ongetwyfeld gekwel deur twyfel, verwarring en moedeloosheid terwyl hy probeer het om die kerk te vestig. Die druk was intens, ek is seker; party dae moes alles deurmekaar gevoel het. In sy skrywes, was hy eerlik oor sy herhaaldelike onvermoë om sy kennis van wat reg is met sy gedrag te laat ooreenstem.

Wat ‘n verstommende gawe het Paulus vir ons nagelaat! Deur sonder om doekies om te draai van die onmin binne-in homself te vertel, het hy openbaar hoe ons eerlikheid voor God en mekaar die pad na genesing is. “Ek gaan julle reguit vertel”, sê hy, “Dit is ‘n daaglikse stryd. Julle sal heeltyd mure binne-in julleself ontdek wat julle gedink het julle het oorwin; gesindhede en impulse wat julle seker was uitgeroei was; geestelike verwarring wat julle gedink het julle het uitgesorteer. Julle moet weet dat dit die pad van die gelowige is! Ons is verlos, maar ons werk en leef steeds in hierdie wêreld. Ons geloof sal beproef, gelouter en verdiep word. Hierdie beproewings sal jou volwasse maak op maniere waaraan jy nie eens kon dink nie. Jy sal ver buite jou gemaksone gestrek word tot by plekke wat jy nie eers geweet het bestaan nie.

Paulus hou nie hier op nie. In hoofstuk agt, gaan hy voort om ‘n ambisieuse geloof aan te moedig; en, soos altyd, wys hy reguit terug na die onveranderlike krag van die Heilige Gees. “Want God het [gedoen] – wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees” (Romeine 8:3). Hy beklemtoon dat ons hulpeloosheid die manier is waardeur ons met krag lewe. “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny  om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:15).

Moenie dat jou mislukkings en innerlike onrus jou neertrek nie! Volg Paulus se voorbeeld en gebruik elke struikeling om jou vorentoe te dryf. Laat jou kwesbaarheid jou vertroosting en brandstof vir ‘n onverskrokke geestelike reis wees.