Die Evangelieverkondiging “Volbring”

David Wilkerson (1931-2011)

Die apostel Paulus het aan sy geslag gesê: “Ek [het] die evangelieverkondiging van Christus volbring” (Romeine 15:19, AFR53) en hy het die volbringde evangelieverkondiging beskryf as een van woorde en dade. “Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie – om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illirikum” (Romeine 15:18-19).

 As Paulus gepreek en onderrig het sonder dat tekens en wonders daarop gevolg het, sou sy boodskap nie sy volle impak gehad het nie. Hy het vir die Korinthiërs gesê: “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12). 

Let op Paulus se woorde in hierdie vers: tekens, wonders, kragtige dade. Die meeste Christene vandag skram weg wanneer hulle hierdie woorde hoor. Hoekom? Want die woorde word deur gewetenlose predikers en leraars afgewater. Die groot tragedie is dat dit veroorsaak het dat baie godvresende predikers, evangeliste en gemeentelede weggedraai het van die waarheid van 'n volle verkondigde evangelie.

Geliefde, God is steeds God, en Hy doen steeds wonderwerke. Hy is steeds ons geneesheer en Hy wil hulle wat op hom vertrou kragtig steun. Bonatuurlike gebeure het in die Nuwe-Testamentiese kerk plaasgevind sonder enige verdraaiings, sonder advertensies, vertoon of enige persoon wat aanspraak gemaak het op al die eer.

Die bediening van Paulus is 'n voorbeeld. By Troas, terwyl Paulus 'n lang boodskap gepreek het, het 'n jong man aan die slaap geraak terwyl hy op 'n vensterbank gesit het en drie verdiepings ver geval tot op die grond. Die Bybel sê die jong man is “dood opgetel” (sien Handelinge 20:9-12). Toe Paulus kom waar die seun was, het hy almal stil gemaak. Toe tel hy die liggaam op en skielik het lewe in die jong man teruggekom. Die seun is uit die dood opgewek. Wat 'n magtige wonderwerk!

Nadat dit gebeur het, het Paulus nie almal uitgestuur om die nuus te versprei dat 'n wonderwerk plaasgevind het nie. Nee, almal het eenvoudig teruggegaan na die derde verdieping, nagmaal gebruik, en Paulus het voortgegaan om te preek. Die Skrif noem nie weer die jong man nie. Hoekom nie? Want die kerk het verwag dat bonatuurlike werke sou plaasvind! Hulle het 'n volle evangelie verkondig met tekens en wonders wat daarop gevolg het.