Gereedmaak om Geestelik te Stry

David Wilkerson (1931-2011)

Jy het seker al gehoor van die V.S.A. Leër se Spesiale Magte, ‘n hoogs opgeleid leër-binne-‘n-leër, ‘n uitgesoekte eenheid van toegewyde soldate. Spesiale magte bestaan volkome uit vrywilligers, krygers wat raakgesien en uitgeroep is deur hulle meerderes.

Voor die oorlog in Afghanistan, het Osama bin Laden gesê dat Amerikaanse soldate swak, lafhartig en nie opgelei is vir bergoorlogvoering nie. Hy het voorspel dat die Taliban die V.S.A. troepe beskaamd huistoe sou stuur, maar hy het nie rekening gehou met die Amerikaanse Spesiale Magte nie. Hierdie vreeslose eenheid het Afghanistan binnegeval met ‘n skrale 2000 soldate. Binne enkele dae het hulle al die vyande se vestings opgespoor.

Ek glo God doen iets soortgelyks in die geestelike wêreld. Terwyl ek in gebed was, het die Heilige Gees my onder die indruk laat kom van die konsep dat God aan die werk is in die hemele op ‘n geheime sending. Hy is besig om ‘n leër-binne-in-‘n-leër op te rig en soek sy gewone troepe om ‘n uitgesoekte eenheid vrywilligers te vorm. Hierdie spesiale mag bestaan uit krygers wat Hy kan aanraak en oprig om oorlog te voer teen die vyand. Ons sien ‘n toonbeeld hiervan in die Bybel met Saul se spesiale burgermag. Die Woord sê vir ons: “En Saul het ook na sy huis gegaan in Gíbea; en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan” (1 Samuel 10:26).

God se spesiale magte sluit vandag die jonges, middeljariges en selfs die bejaardes in. Hulle is opgelei in hulle geheime binnekamers van gebed. Hulle intimiteit met Jesus het hulle geleer hoe om oorlog te voer. Nou weet hulle hoe om oorlog te voer op enige geestelike vlak, of dit nou in die berge of in die valleie is.

Die Skrif sê: “Maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree” (Daniël 11:32) en “Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:31).

God se leër-binne-in-leër is in plek in elke land. Sy aktiwiteit mag nou in die geheim wees, maar binnekort sal ons werke in die Naam en krag van Christus beleef. God se Woord kom te voorskyn en die hongersnood is besig om te eindig. Die Here sal heers. Sy Woord sal alles oorwin.