God Bly Getrou

David Wilkerson (1931-2011)

Die enigste ding wat God se wonderlike doel vir jou in die wiele kan ry, is die sonde van hardkoppige trots. Ons sien dit in die lewe van Koning Saul.

Die Skrif sê vir ons God se Gees was op hierdie man van die dag waarop die profeet Samuel hom in die pad sien aankom het. God het Saul geroep en Hy het hom gebruik, maar daar het gou iets binne-in Saul ontwikkel: ‘n arrogante trots. Saul het geweier om sy sonde te bely. In plaas daarvan, het hy ander geblameer om sy dade te regverdig. Hy was meer begaan om ‘n goeie voet voor te sit as oor wat God van hom gedink het.

Geliefde, die verskil tussen Dawid en Saul was trots. Dink daaraan. Koning Dawid, wat oor Israel geheers het na Saul, het net so erg soos Saul gesondig. Dawid het selfs ‘n ander vrou se man laat doodmaak om sy sonde te verdoesel, maar hy het dit gou voor God bely. Toe Natan, die profeet, Dawid op sy verskriklike daad gewys het, het hy dit nie probeer regverdig nie. Hy het liewer dadelik uitgeroep: “God, moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie! As wat wil hê is om U te behaag. Ek weet ek het U teleurgestel, maar vergewe my asseblief. Reinig my hart” (Sien 2 Samuel 12:1 en Psalm 51).

Toe Saul in sy sonde betrap is, het hy egter Samuel se kleed gegryp en gesmeek: “Moenie my koninkryk van my af wegneem nie. Staan asseblief by my sodat ek nie sleg lyk lyk voor my volk nie” (Lees 1 Samuel 15:22-35). Saul was meer geïnteresseerd in wat die mense van hom gedink het as dat hy die Heilige Gees bedroef het.

Geliefde, dit is trots en ‘n hoogmoedige, hardnekkige gees wat ons laat struikel. ‘n Gebroke hart, ‘n verslae gees, gryp die hart van die Here aan. Dit maak nie saak waardeur jy gegaan het of hoe jy God teleurgestel het nie. As jy na Hom toe vlug en alles uithuil nadat jy misluk het, sal Hy by jou staan. Hy staan altyd by die wat ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees het.

Ons almal stel die Here teleur, niemand in sy kerk is perfek nie. Elke keer wat ons egter ontrou is aan Hom, bly Hy getrou aan ons.