God Sal Sy Doel Bereik

David Wilkerson (1931-2011)

Petrus was die man wat gesê het hy sal Jesus nooit in die steek laat nie. Petrus het egter nie net ontken dat hy die Here geken het nie, maar hy het dit gedoen met 'n rits vloekwoorde wat uit sy mond gestroom het.

“En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle. Maar hy het dit weer ontken. En 'n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle... Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie!” (Markus 14:69-71, AFR53).

As jy naby die vuur gestaan het en na Petrus geluister het, het jy dalk gedink: “Is dit die man wat op die Berg van Verheerliking was? Is dit die een wat die hande op die siekes gelê het, en hulle het gesond geword, die een aan wie die sleutels van die koninkryk toevertrou is? Luister wat kom by sy mond uit! Hoe kon hy so intiem met die Here wandel en dan so te kere gaan, lieg, vloek en Hom verloën? Dit is alles verby vir Petrus. Hy kan net sowel teruggaan na sy visnette toe. Daar sal nooit weer van hom gehoor word nie”.

As jy na die Here gegaan en uitgevaar het oor Petrus se vloekery, sou Hy geantwoord het: “Ja, Petrus het My in die steek gelaat; maar Ek ken sy hart. Hy gaan oor 'n paar uur op 'n heuwel wees, ween en terugkom na My toe. Hy is op koers na Pinkster en na 'n lewe van bediening vir My. Trouens, hy sal as martelaar sterf, onderstebo gekruisig word vir My”.

“As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan homself nie verloën nie” (2 Timótheüs 2:13). Dit is waar dat Petrus verskriklik ontrou was, maar God het getrou gebly, en sy ewige doel in Petrus se lewe is nie verydel nie. Hoekom? Want God kan  Homself nie verloën nie.

Dit maak nie saak waardeur jy is of wat jy gedoen het nie, God kyk na jou hart. As jy 'n gebroke en berouvolle gees het, sal Hy daar wees vir jou. Sy ewige doel vir jou sal nie verydel word nie, want Hy sal dit deursien!