God se Pad deur die Duisternis

John Bailey

Dawid was ‘n man na God se hart, maar hy het ‘n sondige natuur gehad wat duidelik in die Skrif na vore kom. In 1 Samuel 30:1-8, het Dawid en sy manskappe van die oorlog af teruggekeer net om te ontdek dat die Amalekiete hulle huise in Siklag afgebrand en die vroue en kinders gevange geneem het.

Hoewel Dawid nog nie amptelik as koning gekroon was nie, was hy reeds deur God gesalf om koning te wees en om koninklike verantwoordelikhede vir ander op homself te neem. Hy het egter ‘n duur les hier geleer om vroue en kinders kwesbaar voor die vyand te laat. Die Skrif sê dat Dawid en sy manskappe geween het totdat hulle geen krag oorgehad het om te ween nie. Daar is ‘n plek vir benoudheid oor die prys van foute of sonde. Mag God inderdaad vir ons die krag gee om te ween oor gebrokenheid.

Dawid se swaarkry was egter ver van verby. 1 Samuel 30 sê dat die manne so bedroef was oor die situasie dat hulle daarvan begin praat het om Dawid te stenig. Terwyl Dawid gedeeltelik verantwoordelikheid moes aanvaar vir die gevolge van sy besluit, was die besluit nie kwaadwillig nie, en deur hom te stenig, sou nie die regte reaksie wees nie. Boonop was Dawid se familie ook gevange geneem, en hy het oor sy eie verlies getreur. Dit sou so maklik vir hom wees om na die onregverdigheid van die situasie te kyk en teenoor die manne uit te vaar.

In plaas daarvan, sê die Skrif dat te midde van sy benoudheid: “Dawid het homself versterk in die HERE sy God” (1 Samuel 30:6, AFR53). Dawid was eerlik oor sy mislukking maar het in die wonderbare krag van God se genade gerus. Toe hy homself alleen in God se teenwoordigheid versterk het, het Dawid ‘n baie belangrike volgende stap geneem. Hy het vir Abjatar, die priester, beveel om vir hom die skouerkleed te bring, wat die uitrusting van ‘n priester was. As ‘n vader, eggenoot en leier, weet ek die versoeking moes erg gewees het om agterna te jaag en sy gesteelde gesin terug te bring. Dawid het egter reeds sy les geleer van optree sonder om God se wil eerste te soek.

Dit spreek my so sterk aan om nie op my eie “planne” of op my “weet-hoe” staat te maak om geestelike duisternis te verdryf nie. God alleen het die krag om die duisternis te oorwin, en Hy ken die pad na triomf. Miskien gaan jy deur ernstige situasies, party waaraan jy selfs gedeeltelik skuldig kan wees. Die verlossende krag van God se goedheid staan vas: God is getrou, selfs in die oomblikke waar ons nie getrou was nie.