God se Genadige Handelwyse

David Wilkerson (1931-2011)

"Ek is vir Israel 'n Vader, en Efraim is my eersgeborene" (Jeremia 31:9, AFR53).

Die mense van Efraim, die grootste stam van Israel, was miskien die naaste aan God se hart. Die Here het 'n ewige plan vir hierdie baie geseënde stam gehad, maar Efraim het bly afvallig raak en God bedroef. Die volk het meer gesondig as enigiemand anders in Israel, maar het God Efraim verlaat? Dis net die teenoorgestelde. God het gesê dat hulle 'n vry en losgekoopte volk sou wees. Hulle sou leef tussen vettigheid, wat beteken, God se grootste seëninge (sien Jeremia 31:14, AFR53).

Wat het God in Efraim gesien? Hulle het 'n berouvolle hart gehad, 'n skaamte vir sonde, 'n gewilligheid om na die Here terug te keer. Ten spyte van al hulle mislukkings, het hierdie een eienskap God se hart na hulle toe aangetrek! Toe 'n sterk, profetiese woord uitgekom het, het hulle gereageer. Toe hulle bestraf is, het hulle geween oor hul sonde.

Op die hoogtepunt van hulle afvalligheid, het God gesê: “Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering: Ek sal My sekerlik oor hom ontferm” (Jeremia 31:20). God het in wese gesê: “Ten spyte van Efraim se tekortkominge en mislukkings, sien Ek ’n berouvolle gees en Ek sal nie my tere liefde wegneem nie. My ewige doel vir Efraim sal voortgaan soos Ek beplan het.”

Geliefde, God het 'n plan met jou lewe. Hy sal al sy doelwitte vir jou bereik, maak nie saak waardeur jy gaan of hoe erg jou beproewing is nie. God het baie daaroor gedink om jou toekoms te beplan.

Ek het 'n woord vir sommige wat hierdie boodskap nou lees: Jy kan nie God se ewige doel vir jou beoordeel aan wat jy voel of dink nie. God wil vir jou sê: “Hou jou hart nederig voor My. Vertrou my Woord oor my natuur, dat Ek 'n tere, liefdevolle Vader is wat baie in jou belê het. Ek is nie op die punt om jou te laat gaan nie. Jy is my lieflike kind en Ek sal jou verlos.” 

“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).