God se Magtige Leër

David Wilkerson (1931-2011)

Iets kragtig en wonderbaar is vandag in die wêreld aan die gang. Dit is 'n mag bo menslike begrip wat die hele wêreld in hierdie laaste dae sal beïnvloed. God is besig om 'n klein maar  magtige leër Christene voor te berei. Hy gaan die eeue afsluit met 'n suiwer, toegewyde, vreeslose groep.

My lewe lank het ek stories gehoor van ons godvresende voorvaders wat sonde gehaat het. Hierdie manne en vroue het God se stem geken en ure, selfs dae, in vas en gebed deurgebring. Hulle het meedoënloos gebid en het die krag en vermoë gehad om suksesvol op te staan teen onsedelikheid in hulle tyd.

Hierdie voorvaders is lankal oorlede, maar God is besig om nog 'n weermag op te rig. Hierdie keer sal dit nie net bestaan uit bejaarde, gryshaar vaders en moeders van die geloof nie. Dit sal beide nuwe en ervare gelowiges insluit, jonk en oud - gewone Christene wat God in 'n nuwe terrein van bediening aangryp. 

Die denominasionele kerkstelsel blyk amper dood te wees. Dit het byna geen invloed in die sekulêre wêreld nie, geen magtige krag in Christus nie. Sommige beskuldig my daarvan dat ek “hard” is met geestelike herders, maar ek is in kontak met baie godvresende geestelike herders wat treur soos ek oor die afvalligheid in die bediening vandag. Daar is baie goddelike herders, en ek dank God vir elkeen van hulle. Tog is dit steeds 'n feit dat al hoe meer bedienaars op die pad van kompromie afstuur. Die Bybel waarsku dat ons ons nie hieroor moet bekommer nie. God het 'n plan waaroor ons in die Skrif kan lees, meestal in die eerste vier hoofstukke van 1 Samuel.

Die profeet Samuel is 'n tipe van God se laaste-dae volk. Die Here het hom in die slegste tye gekies en hom in opleiding weggesteek totdat dit tyd was om iets nuuts te openbaar. God het vir Samuel gesê: “Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor se ore sal tuit” (1 Samuel 3:11, AFR53). Wat sou almal wat dit hoor so sou verbaas en laat skrik? Dit was die oordeel van God oor die teruggevalle godsdiensstelsel en die opwekking, opleiding en salwing van mans en vroue wat aan Hom toegewy was.

God doen in elke geslag wat hy in Samuel se tyd gedoen het. Hy wek 'n biddende volk na sy hart op.