Heilig en Aanneemlik

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer jy jou hart daarop instel om onberispelik voor God te lewe en Hom te behaag, sal jy gevrees en verag word deur diegene wat sy genade en seën verloor het. Louwarm Christene sal ontstel en afgestoot word deur jou lewe.

Ons sien dit baie duidelik geïllustreer in 1 Samuel. “En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het. Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het. En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom.. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword” (1 Samuel 18:12-15, AFR53).

Dawid se onberispelike optrede het vrees in Saul se hart ingeboesem. Wanneer Saul ook al naby Dawid was, het hy onthou dat hy die genade van God en die aansien van mense geniet het. Ongehoorsaamheid, afguns, trots en eie wil het egter Saul al sy krag by God gekos; en dit het hom beroof van aansien by sy volk.

Saul het van aangesig tot aangesig gekom met ‘n jonger en minder ervare man wat die krag en integriteit van heiligheid uitgestraal het. Hy was rein van hart en vol van die Heilige Gees, en Saul was bang vir hom.

Hou in gedagte dat dit nie ‘n afgodiese heiden was wat bang was vir Dawid nie. Nee, Saul was ‘n man wat die krag van die Heilige Gees geken het. Hy was eens God se gesalfde, ‘n magtige man met ‘n kragtige bestemming. Toe het Dawid op die toneel verskyn. Hier was ‘n jongman wat bloot ‘n rein lewe geleef het, en God het sy genade op Hom uitgestort. “Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit-en ingegaan” (1 Samuel 18:16).

Dit was vernederend vir Saul en hy kon Dawid nie om hom verdra nie. Die Skrif sê: “Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder” (1 Samuel 18:13). Dit is jammer, maar Saul verteenwoordig die gekompromitteerde kerk van vandag, daardie Christene wat die salwing van God gekompromitteer en verloor het. Hy is ‘n tipe van gelowige wat eens aan die brand was vir God, maar wat in geestelike ondergang verval het deur hulle ongehoorsaamheid, trots en begeertes.

Daar is niks niks meer skrikwekkend vir ‘n gekompromitteerde Christen nie as ‘n heilige, onberispelike lewe. Hoe meer jou lewe in ooreenstemming kom met die Here se wil en sy heiligheid, hoe meer afstotend sal jy wees vir afvallige gelowiges.