Hindernisse om in God te Groei

David Wilkerson (1931-2011)

In Efésiërs 4:31, lys Paulus die dinge waarvan ons in ons lewens ontslae moet raak as ons in die genade van Christus wil groei: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.”

Ons durf nie hierdie sake op Paulus se lys oorslaan nie. As jy die hartsake wat Paulus hier noem, ignoreer, sal jy die Heilige Gees bedroef. Jou groei sal belemmer word en jy sal ‘n geestelike zombie word.

Die eerste drie items op Paulus se lys – bitterheid, toorn en woede – is selfverduidelikend. Bitterheid is ‘n weiering om ‘n ou seerkry te laat vaar of ‘n vorige onreg te vergewe. Toorn is ‘n vesting van veragting wat gekoppel is aan ‘n hoop om wraak te neem. Woede is ergernis, of ‘n vinnige, eksplosiewe uitbarsting, of ‘n stadig brandende verontwaardiging teenoor iemand anders.

‘n Geskreeu is ‘n skielike uitbarsting oor niks, ‘n onnodige kabaal, ‘n harde geraas maak om geen rede nie. Ons veroorsaak ‘n geskreeu wanneer ons ‘n groot kwessie maak van iets nietigs, of ‘n kabaal opskop eerder as om te probeer help of genees.

Die laaste item op Paulus se lys is boosheid. Boosheid is die begeerte om iemand anders te sien ly. Vir baie Christene beteken boosheid die hoop dat God iemand anders, wat hulle skade aangedoen het, sal straf. Dit is ‘n duiwelse gees en dit word gewoonlik diep in die hart weggesteek.

Wanneer Paulus sê, alle euwels “moet van julle verwyder word,” praat hy nie net van ‘n vinnige regmaak nie. Hy beskryf ‘n proses van groei wat tyd in beslag neem. Soms mag ons misluk om onsself van hierdie euwels te reinig. Maar as ons vinnig bely en ons daaraan toewy om dinge reg te maak met die ander persoon, sal hierdie kwessies met verloop van tyd verdwyn. Terwyl ons hierdie euwels aflê, word ons ook beveel: wees “vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32).

Die apostel sê ons moet daardie sondes volkome konfronteer en hierdie vrug van die Gees kweek as ons in genade wil groei.