Hoekom Moet Hulle God Ken?

Gary Wilkerson

Wanneer 'n baba gebore word, sê die ouers: "A, 'n nuwe generasie!" Hulle staar verwonderd na hierdie klein kosbare kleinding en neem die geur en sagte vel van splinternuwe lewe in. ’n Ouer vergeet nooit daardie eerste oomblikke in die teenwoordigheid van God se nuutste, beminlike skepping nie.

Dan raak dit ‘n waas! Die jare snel verby; slapelose nagte, doeke en eerste treë verander in sport, musieklesse en gradeplegtigheid. Skielik is die kinderjare verby. Jy tree terug en sê: "Wag ... Wat het ons hulle geleer?"

Elke nuwe generasie is 'n skoon bladsy. Wat in hul harte en gedagtes geplaas word, laag vir laag, is daar omdat iemand dit vir hulle geleer het. Ek gebruik ouers as voorbeeld, maar dit is waar vir ons almal. Maak nie saak wie jy is nie, jy kan onderrig; en die liefde, genade en grootsheid van God kan enige plek en enige tyd geleer word. Dit is belangrik om onsself af te vra of ons dit doen.

Maak jy as ouer, mentor, onderwyser of herder seker dat God bekend is aan diegene wat jy onderrig? Onderrig jy popsielkunde of Skrif? God se heerlikheid het nie 'n topverkoperboek, 'n kort, kragtige-praatjie of 'n beradingsessie nodig om bekend te wees nie. Dit moet net ontrafel en gedeel word. Sy eienskappe is so manjifiek dat dit van toepassing is op alles wat ons doen, maar ons krap dikwels skaars die oppervlak in ons onderrig. Mense het die kennis van God nodig sodat hulle die lewe kan navigeer. Hulle moet weet waar om te draai wanneer hulle 'n muur tref. Ons het almal nodig om God te sien in die lig wat Hy bedoel het ons Hom moet sien. 

Kyk na sommige van sy name en hoe hulle onmeetlike vrede en vertroosting bring: Immanuel (God met ons), Jehova-Rafa (die Here ons geneesheer), Jehova-Jire (die Here ons Voorsiener), Jehova-Shalom (die Here is vrede) . Daar is baie meer. Hy is heilig en regverdig; tog is Hy reg langs ons en luister om ons stem te hoor. Die volgende generasie moet hoor!

Om God te ken en sy eienskappe te verstaan is die beste lewensvaardighede wat ons kan hê. Tog moet hulle eers geleer en dan weer geleer word om te verseker dat ons nie verroes nie. Deuteronómium sê vir ons: “As jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómium 6:7, AFR53). Wys hulle elke dag, by elke geleentheid weer die God wat hulle oneindig liefhet en wys hulle hoe om Hom te vind.