Hou Op om Jouself te Vergelyk

David Wilkerson (1931-2011)

“Die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die HERE . . .En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God” (Haggai 1:12,14, AFR53). Die Israeliete het onder sondebesef gekom dat hulle hul eie belange voorop gestel het en daarná teruggekeer werk toe om die tempel te herbou.  Hulle was terug waar hulle moes wees – om die huis van God te bou.

Hulle het voor die fondament van die tempel gestaan toe die mure gebou is, maar iets was verkeerd, en baie van die ouer mense het begin huil. Waarom? Omdat hulle die heerlikheid van Salomo se tempel gesien het ag-en-sestig jaar tevore, en hierdie nuwe een kon nie daarmee vergelyk nie. Daarteen het dit nietig gelyk.

Die mense het van die vorige heerlikheid begin praat en gesê: Daar is geen verterende vuur op die altaar nie, geen sjekina heerlikheid wat op die tempel neergedaal het nie. Ná al ons harde werk, opoffering, gehoorsaamheid en God se belange eerste plaas, skiet ons ver te kort! Dit is niks in vergelyking met wat ons voorheen gesien het. Waarom voortgaan as ons so min sien vir alles wat ons gedoen het?

Baie van God se kinders verloor vandag moed omdat hulle nie dink hulle sal ooit goed genoeg wees nie. Soos die Israeliete, het hulle teruggegaan om God eerste te stel, sy wil te soek, sy huis te bou. As hulle egter na hul lewens kyk, sê hulle: “Ek het so min om te wys vir al my moeite. Ek het so min van God se heiligheid en heerlikheid in my lewe. In vergelyking met ander Christene, sal ek nooit  nie. Wat is die nut van probeer? Ek sal nooit ’n oorwinning hê nie”.

Ek is oortuig daarvan dat dit is hoekom baie toegewyde Christene die stryd gewonne gee. Hulle vergelyk hulself met ander gelowiges en raak moedeloos omdat hulle hopeloos minderwaardig voel.

Geliefde, jy kan dit afmerk, want dit is God se belofte aan jou. Van die presiese uur af wat jy weer fokus op die opbou van Christus se liggaam en alle gedagtes van opgewasse wees opsy sit, sal jy sy veelvuldige seën begin beleef. Jy kan dit letterlik afmerk! Jy sal weet dat Hy jou bevoordeel, vir jou glimlag en Homself in jou verbly.