Hou Op om op Jouself te Vertrou

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus het nie van geloof gepraat voordat hy alle vertroue in sy vlees verloor het nie. Hy het sy hele opvoeding, al sy selfvertroue, vermoëns, leerstellings en ywer geneem en dit eenkant toe geskuif. Hy het eers van geloof gepraat nadat hy gesê het: “Ek kan nie op my vlees vertrou nie”. Dieselfde geld vir ons.

Voordat iemand waarlik kan glo, moet hy besef hoe verlore, hulpeloos en totaal hopeloos hy is. Ons het nie reddende geloof totdat ons ophou om te glo dat iemand of iets anders as Jesus ons kan red nie.

Reddende, regverdigmakende geloof behels dat jy jou lewe met jou hele hart aan Christus onderwerp. Dit sluit 'n bekering in wat sê: "Jesus, ek het niks om U te bied nie. Ek kom om my aan u heerskappy te onderwerp!” 

In Romeine 10:9 karakteriseer Paulus reddende geloof as om met jou hart te glo en met jou mond te bely. Hy sê dat geloof meer is as om net met jou verstand in te stem. Dit is eerder om jou hele lewe met jou hele hart aan hom te onderwerp.

In Handelinge 8:37 het Filippus het vir die hofdienaar gesê: "As u glo met u hele hart ...", en die hofdienaar het geantwoord: "Ek glo ..." Dit was nie bloot 'n geestelike "ja" vir Jesus nie; hy het regtig met sy hele hart geglo, en hy is gered.

Daarteenoor het Simon die towenaar Petrus se prediking geglo, maar hy het net 'n tydelike geloof gehad omdat sy hart nie daarin was nie. Trouens, menigte mense in Jesus se tyd het tydelik in die naam van Christus geglo, maar Jesus het homself nie aan hulle toevertrou nie, want Hy het geweet hulle harte was nie ten volle toegewyd nie (sien Johannes 2:23-24).

So, vra jy, wie word werklik deur geloof vrygespreek en geregverdig? Dit is die een wat weet hy is verlore en hulpeloos, en hy het alles probeer en misluk. Nou plaas hy sy hele lewe met sy hele hart, verstand, siel en krag in die Here se hande. Hy roep uit: “Here, ek is U s’n! U is my enigste hoop". Hy is gered!