Hy Het Reeds Voorsiening Gemaak

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer God ons roep vir ‘n spesifieke werk, het Hy reeds voorsiening gemaak vir alles wat ons nodig het om dit te bewerkstellig. “En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Korinthiërs 9:8, AFR53).

Hierdie vers is nie net ‘n hoop nie; dit is ‘n belofte! Dit begin met die woorde: “God het mag!” God is nie net daarin geïnteresseerd om jou behoeftes aan te spreek nie. Hy wil altyd vir jou meer gee as wat jy nodig het. Dit is wat “oorvloedig” beteken, ‘n toenemende, bonatuurlik oorvloedige voorsiening.

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20). Dink aan wat hier belowe word. Wanneer jy terneergedruk en moeg is en nie dink dat jy verder kan nie, het God mag om jou só te versterk dat jy alles wat jy nodig het in elke moontlike situasie te alle tye sal hê.

Dit is asof die Here sê: “Luister al julle herders! Luister, julle almal wat getrou my huis bywoon en in gebed, lofprysing en voorbidding arbei. Ek wil aan julle ‘n oorvloed krag, hoop, blydskap, vrede, rus, finansies, bemoediging en wysheid gee. Trouens, Ek wil hê julle moet ‘n oorvloed hê  van alles wat julle nodig het.”

God het nooit bedoel dat ons geestelike boemelaars moet wees en arm in die dinge van die Here moet wees nie. In teenstelling, die volwasse gelowige is die een wat ‘n openbaring van al die groot beloftes wat God vir hom berei het geniet en hy soek hierdie openbaring deur geloof.

Trouens, die Bybel sê dat ons Hom moet najaag vir hierdie openbaring. Paulus het geskryf: “Ons het ewenwel...ontvang...die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslik wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk” (1 Korinthiërs 2:12-13).

Ek glo die meeste Christene het nog nie die krag van hierdie beloftes van God beleef nie. Ons het dit al baie keer gelees, maar dit bly soos dooie letters vir ons.

Ons moet dit in besit neem en sê: “Here, openbaar aan my wat U voorberei het! Maak my verstand en my gees oop vir u bronne. U Woord sê ek moet weet al hierdie dinge word vrylik aan my gegee sodat ek dit vir u heerlikheid kan opeis!”