Jou Geloof Is Al Wat Hy Wil Hê

David Wilkerson (1931-2011)

God wil nie jou huis, motor, meubels, spaargeld of enige van jou besittings hê nie. Al wat Hy wil hê, is jou geloof, jou groot geloof in sy Woord. Dit is dalk die een ding wat ander mense, wat meer geestelik voorkom, dalk kortkom. Jy mag dalk 'n ander mens meer geestelik beskou as jouself, maar in werklikheid kan daardie mens moontlik hard sukkel om 'n skyn van geregtigheid te behou.

Terwyl God na jou kyk, sê Hy: "Daar is 'n regverdige man of vrou." Hoekom? Jy het jou hulpeloosheid erken om regverdig te word, en jy het op die Here vertrou om vir jou Sy geregtigheid te gee. Paulus sê vir ons dat ons regverdig gereken word in God se oë om dieselfde rede waarom Abraham regverdig gereken was. “Daarom is dit hom [Abraham] ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het” (Romeine 4:22-24).

Jy mag dalk beweer: “Ek glo dit. Ek het geloof in die God wat Jesus opgewek het.” Ten spyte hiervan, is die vraag vir jou: “Glo jy die Here kan jou beleërde huwelik weer herstel? Glo jy Hy kan 'n geestelik dooie familielid lewend maak? Glo jy dat Hy jou uit die put van 'n aftakelende gewoonte kan optrek? Glo jy Hy kan jou vervloekte verlede uitvee en al die jare wat die sprinkaan opgevreet het, aan jou teruggee?”

Wanneer alles hopeloos lyk, wanneer jy in 'n onmoontlike situasie is met geen hulpbronne en geen hoop voor jou nie, glo jy dat God jou Jehova Jira sal wees, om in al jou behoeftes te voorsien? Vertrou jy dat Hy daartoe verbind is om sy ewige beloftes teenoor jou na te kom? Glo jy dat as selfs een van sy woorde misluk, die hemele sou smelt en die heelal in duie sou stort?

So, jy het alles in die Here se hande oorgegee. Jy glo in sy beloftes om jou te bewaar, jou te beskerm en jou opreg voor Hom te laat lewe. Jy sê: “Ek glo God se Woord. As Hy sê dat ek sy geregtigheid is, is dit sy taak om dit in my lewe so te maak. Ek het dit dalk nog nie bereik nie, maar ek weet dit is nie my taak om dit te laat gebeur nie. Dit is die Here s'n. Ek weet dat deur sy Gees wat in my werk, Hy my daar sal kry. ”