Die Taal van Rewolusie

David Wilkerson (1931-2011)

“Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18, AFR53).

Met groot en groterwordende woorde

Praat die rewolusioniste.

Soos die steek van ‘n swaard,

Steek hulle met hulle tonge

Na die gevestigde orde van die dag.

‘n Goddelose man grawe kwaad op

En op sy lippe is daar ‘n brandende vuur,

Die onblusbare vuur van die hel.

Maar die goddelose man sal verstrik word

Deur die oortreding van sy eie lippe.

Hy wat sy mond stil hou,

Behou sy lewe,

Maar hy wat sy mond wyd oopmaak

Sal vernietig word.

Want die regverdige mens haat leuenagtige lippe

En lippe wat geen genesing het nie.

Die lamp van die goddelose sal uitgedoof word

En sy lippe sal geseël word;

Want goddelose taal

Sal omvergewerp word

En die tong van die wyse

Sal genesing uitstuur.

 

“Die tong van die wyse is genesing.” Koning Salomo het geweet waarvan hy praat toe hy hierdie woorde geskryf het; sy 40-jaar heerskappy was ‘n ongekende tyd van vrede en voorspoed. Die woorde klink nie baie rewolusionêr nie, maar dit is meer wêreldveranderend as wat jy kan dink.

Salomo het God se genade geniet omdat hy God se wysheid gesoek het, nie sy eie nie. Die rewolusie van vrede tydens sy heerskappy was as gevolg van die woorde wat uit daardie wysheid gevloei het, en die volk in sy wye invloedsfeer het daarop gereageer. Hy het sy les goed geleer van sy vader Dawid, wat gebid het: “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3).

Salomo wou nie net vriendelik en goed wees nie; hy wou wysheid hê! Hy wou hê sy volk moes die sekuriteit van waarheid en geregtigheid voel. Hy was passievol daaroor dat hulle die woorde van ‘n liefdevolle God sou hoor deur sy leierskap, die woorde van een wat die begeertes van hulle hart verstaan het en wat vreeslik baie vir hulle omgegee het. Hy was vasbeslote om sy volk te leer hoe om lewens van waarde en diensbaarheid te leef.

Here, ek soek U wysheid! Rig my gedagtes, my hart, my dade daarop om in harmonie met U s’n te wees. Mag my woorde vrede en orde en goeie gesondheid bring in die lewens van hulle wat ek beïnvloed.