Leef Bo die Stormwolke

David Wilkerson (1931-2011)

Ek en jy benodig ‘n beter begrip van God se liefde. Na die lees van 1 Johannes, het ek besef hoe min ek weet van lewe in God se liefde. “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom” (1 Johannes 4:16, AFR53).

Baie Christene weet slegs teologies van God se liefde vir hulle. Hulle het die Skrif geleer en dit gehoor verkondig word, maar hulle begrip is beperk tot ‘n versie uit ‘n kinderkoortjie: “Jesus min my salig lot, ek weet dit uit die woord van God”.

Ons glo God het ons, die wêreld en die verlorenes lief, maar dit is ‘n abstrakte geloof! Nie baie Christene kan met gesag sê: “Ek weet Jesus het my lief omdat ek verstaan wat sy liefde is. Dit is die fondament van my daaglikse lewe”.

Word jou daaglikse lewe beroof van die geloof in God se liefde? Leef jy pleks daarvan onder ‘n wolk van skuldgevoelens, vrees en veroordeling? God het jou nie gered om in veroordeling te lewe nie. Jesus het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Johannes 5:24). “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Romeine 8:1).

Skuld en veroordeling is van die duiwel. Een betekenis van veroordeling is toorn. Dit beteken dat op die Oordeelsdag, jy vrygestel sal wees van God se toorn. Maar veroordeling beteken ook “die gevoel om nooit op te weeg teen standaarde nie”. En die Woord leer ons dat die gelowige nie onderwerp sal wees aan die gevoel van nie goed genoeg wees nie!

“Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God”  (Efésiërs 3:17-19).

Gewortel en gegrond beteken “om ‘n diep en stabiele fondament te hê van kennis en begrip van God se liefde vir jou”. Daardie kennis is die fondamentele waarheid waarop alle ander waarhede gebou moet word!