Leef in God se Genade

David Wilkerson (1931-2011)

God beloof sy wonderlike genade aan die onberispelike gelowige. “Laat jou hart my gebooie bewaar . . . Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense” (Spreuke 3:1-4, AFR53). Die Here sê as jy vasbeslote is om onberispelik voor Hom te lewe, sal jy in sy genade leef en Hom behaag.

Dit is nie al nie! God se genade sluit ook krag in. Paulus het gesê: “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Thessalonicense 1:5). Sy genade bring die krag van die Heilige Gees na alles wat jy sê en doen. Jou woorde sal nie op die grond val nie omdat hulle die krag van die Heilige Gees sal hê.

Paulus sê daardie Heilige Gees-bekragtigde woord produseer groot resultate: “En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6).

Waarom was Paulus se woord so kragtig en effektief? Omdat hy gesê het: “Sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges” (1 Thessalonicense 1:7). Dit was nie Paulus se prediking en gebede wat mense vir die Here gewen het nie, dit was sy voorbeeldige lewe. God het in Paulus ‘n rein hart gevind wat Hy kon begenadig met die krag van die Heilige Gees.

God se goddelike genade bring ook hoë agting onder mense. Dit is van Dawid geskryf: “En so dikwels as wat hulle uittrek, het Dawid meer voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeërd was” (1 Samuel 18:30). Die man of vrou wat die naam van Jesus beskerm deur heilig voor ander te lewe, sal ‘n goeie naam voor hulle gegee word deur God self!

Sommige Christene sê: “Ek gee nie om oor my naam nie. Dit maak nie saak wat mense van my dink nie. Ek wil onbekend wees, ‘n niemand. Laat die Here al die eer kry”. Dit mag nederig klink, maar volgens die skrif: “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en goud” (Spreuke 22:1). God gee die regverdiges ‘n goeie naam sodat hulle dit kan gebruik om Hom in ‘n groter mate te verheerlik.