Meer as Predeking en Lering

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo die evangelie moet vergesel word met die krag en demonstrasie van die Heilige Gees wat wonders doen en bewys dat die evangelie waar is. 

Paulus het met vrymoedigheid gesê: “En my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4). Die Grieks beteken hier “met bewyse”. Paulus het gesê: “Ek verkondig die evangelie met bewyse. God en die Heilige Gees ondersteun my met tekens en wonders”. Hebreërs sê dat God wel Paulus se boodskap bevestig het. “Terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelinge van die Heilige Gees volgens sy wil” (Hebreërs 2:4).

Die Nuwe Testamentiese gelowiges het een gebed gehad: “Deurdat ... tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind” (Handelinge 4:30). Hierdie apostels het oral gegaan en die evangelie volledig verkondig. “Baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind” (Handelinge 2:43). “En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. …En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Handelinge 5:12,14).

Hier is een van die mees oortuigende van alle verse wat bewys dat 'n volledig verkondigde evangelie die bewyse moet insluit: “Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek het in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaavind” (Handelinge 14:3). Die apostels het eers lank bedien deur genade en bekering te verkondig. Toe het God toegelaat dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.

God se laaste-dag gelowiges sal “uitgaan en oral preek, en die Here sal saamwerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop volg” (sien Markus 16:20). Dit is wat God vir ons in die vooruitsig stel.

Die wonderwerke sal eg, onbetwisbaar, onmiskenbaar wees, en tog sal hulle nie goed bekend wees nie. In plaas daarvan sal dit kom uit die hande van gewone, heilige, afgesonderde mense wat God ken en intiem met Jesus is.

Hierdie klein, voorbereide leër van geloof sal uit die afgesonderde binnekamer van gebed te voorskyn kom met geen ander begeerte as om die wil van God te doen en Hom te verheerlik nie. Hulle sal vreesloos en kragtig wees in gebed. Hulle sal hele nasies oopmaak vir die evangelie en God sal sy woord deur hulle dade bevestig.