Moenie Deur Brood Alleen Leef Nie

David Wilkerson (1931-2011)

As jy dink jy is te ordinêr om deur God gebruik te word, luister mooi. God gaan nie sy finale werk deur groot naam evangeliste of predikers doen nie. Hulle alleen sal nie die groot beweging van die Heilige Gees kan hanteer nie! God gaan in werklikheid elke mens wat Hom liefhet, jonk en oud nodig hê om hierdie werk te verrig. Dit sal Christene wees wat van brood alleen gespeen is. Laat ek verduidelik.

God het deur Moses gesê: “Dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deuteronómium 8:3, AFR53)

Brood staan vir alle natuurlike, materiële dinge wat nodig is vir hierdie lewe: kos, skuiling, klere, arbeid, lone, ens. Brood verteenwoordig lewensbestaan, daardie dinge wat ons nodig het wat nie op sigself sleg is nie. Baie Christene leef egter net vir die dinge van hierdie lewe. Hulle leef van brood alleen.

Jesus het ons geleer om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11). Maar eers het Hy gesê ons moet bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied” (Matthéüs 6:10). Ons moet eerstens op God se belange fokus en bid dat sy wil geskied. Waaraan het jy die afgelope ses maande meer as enigiets anders gedink? Wat het die meeste van jou tyd en gebede in beslag geneem? Was dit meestal broodkwessies, persoonlike behoeftes?

As jy net op brood fokus, dan het jy geen lewe nie. Jy woon in 'n woestyn net soos die kinders van Israel. Hulle het daagliks opgestaan en veertig jaar lank elke dag vir brood en hul persoonlike behoeftes begin vra.

Geliefdes, dit is vervelig, sleurwerk! God het nooit bedoel dat sy kinders so moet lewe nie. Hy het eerder deur Moses vir Israel gesê: “Julle moet lewe volgens elke woord wat uit my mond uitgaan. Ja, Ek het vir julle gesê Ek sal vir julle brood gee, maar moenie daar stop nie. Gaan verder. Ek het vir julle gesê daar is 'n land wat oorloop van melk en heuning, met riviere, bome, woude, groen weivelde; en Ek wil daardie plek vir jou hê.”

God wek 'n volk op wat gefokus is op sy wil vir hierdie middernagtelike uur. Hulle is moeg daarvoor om in 'n woestyn van blote oorlewing te leef. Al wat hulle wil hê, is om God se wil te ken en te doen. Elke lid moet gereed en voorbereid wees in die hart, want God is gereed om sy groot, laaste uitstorting vry te stel.