Moenie die Skatte Vergeet Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Jy kan nie God se voorsienigheid van sy liefde skei nie. Hy het ons vir elke krisis in die lewe die voorsiening gegee om ons te help om in oorwinning te lewe te alle tye!

Ek het eenkeer gebid: “Here, ek wil u hart ken. Ek kan nie ‘n ware begrip van u liefde vir my kry uit enige boek in my biblioteek, of selfs van die gelowigste mense wat al ooit gelewe het nie. Ek wil my eie openbaring van u liefde direk uit u hart hê. Ek wil dit so duidelik sien, dat dit die manier waarop ek met U wandel en die manier waarop ek bedien, sal verander”.

Ek het vir weke lank gebid sonder om te weet wat om te verwag. Sou hierdie openbaring van sy liefde deur my siel stroom soos ‘n vloed? Sou dit verskyn soos een of ander groot insig wat my sprakeloos sou laat? Sou dit ‘n gevoel wees van baie spesiaal wees vir Hom of miskien ‘n aanraking van sy hand op my wat so werklik voel dat dit my lewe vir altyd sal verander?

Nee, God het met my deur ‘n eenvoudige versie gepraat: “Want so lief het God...dat Hy...gegee het...” (Johannes 3:16, AFR53). Sy liefde is verbind aan sy rykdom in heerlikheid, sy oorvloedige voorsiening vir ons. Die Bybel sê dat ons liefde vir die Here bewys word deur ons gehoorsaamheid aan Hom. Sy liefde vir ons, word egter bewys deur dit wat Hy gee! Jy kan Hom nie as ‘n liefdevolle God ken nie, tot jy Hom as ‘n God wat gee, sien. God het ons so liefgehad dat Hy in sy Seun al die skatte, heerlikheid en oorvloed van die Vader geplaas het en Hom toe vir ons gegee het. Christus is God se gawe aan ons.

“Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon” (Kolossense 1:19). “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kolossense 2:9-10). Met ander woorde: “In Hom het jy alles wat jy nodig het!”

Min Christene maak tyd om toe te eien wat God vrylik aanbied. Ons jaag dit nie na of neem besit daarvan nie, en gevolglik lê die skatte van Christus dikwels in die hemel, onopgevra.

Wat ‘n skok gaan ons hê wanneer ons in die hemel kom! God sal vir ons wys al die rykdom wat sy liefde vir ons beskik het en hoe ons dit nie gebruik het nie.