Nader aan Hom Kom

David Wilkerson (1931-2011)

Die grootste kenmerk van ware, reddende geloof is 'n begeerte om nader aan Hom te kom. “Want Christus het ook een maal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak is deur die Gees” (1 Petrus 3:18, AFR53)

Waarom het Jesus gely en gesterf? Waarom het Hy ons vrygespreek? Waarom word sy volmaakte geregtigheid aan ons toegereken? Dit was sodat Hy ons na God kon bring. Dit gaan alles oor intieme gemeenskap met die Vader.

Toe Adam gesondig het, het hy die kosbaarste ding wat enige man of vrou kon besit, verloor: intimiteit met God. Sonde het Adam weggedryf van nabyheid met die Vader, en hy het weggekruip vir God se teenwoordigheid. Sedertdien, wanneer die mens ook al sondig, is hy geneig om te vlug en weg te kruip net soos sy voorvader Adam gedoen het.

Die rede waarom God sonde so haat, is omdat dit ons van gemeenskap met Hom beroof. Hy het ons geskep vir intimiteit met Hom en Hy het so gesmag na ons gemeenskap dat Hy sy eie Seun gestuur het om aan 'n kruis te sterf sodat ons vrygespreek kon word en om die mure af te breek wat daardie intimiteit verhinder het.

Die krag van vryspraak is daarin dat dit 'n weg terug gebaan het na God se oorspronklike doel met die skepping van die mens: gemeenskap met die Vader. 

Hierdie huidige wêreld is vol boosheid, laster, sataniese leuens, verleidings, skuldgevoelens, vrees, veroordeling; alles is deur Satan ontwerp om ons onwaardig te laat voel om in God se teenwoordigheid te kom. Die duiwel wil hê ons moet wegkruip soos Adam gedoen het om ons van intimiteit met God te weerhou.

Ons is verlos van dit alles. Ons het 'n reg op God se teenwoordigheid, 'n uitnodiging na sy troon, want ons staan met 'n volmaakte geregtigheid voor Hom. God nooi ons na die troon van genade omdat Hy ons heilig in Christus aanvaar. Ons sonde is onder die bloed, vergewe en nou is ons geregtig op sy heiligheid.

Geliefdes, Jesus het nie gesterf net om jou na die paradys te neem nie. Hy het gesterf sodat jy elke dag in ‘n heerlike, hegte gemeenskap met die Vader kan leef.