Om Blydskap te Kry in Ons Beproewing

David Wilkerson (1931-2011)

Toe die kinders van Israel deur beproewings gegaan het, was hulle regtig veronderstel om dankbaarheid en danksegging daartydens uit te spreek? Toe hulle omsingel en in 'n hopelose situasie was, het God werklik van hulle verwag om 'n vreugdevolle reaksie te hê?

Absoluut! Dit was die geheim van hoe om uit hul swaarkry te kom. Jy sien, God wil iets van ons almal hê in ons tye van oorweldigende probleme en toetse. Hy wil hê ons moet vir Hom 'n dankoffer bring te midde van dit alles!

Ek glo dat Jakobus hierdie geheim ontdek het toe hy vermaan het: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande beproewinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk” (Jakobus 1:2-3, AFR53). Hy het gesê: “Moenie moed opgee nie! Maak 'n altaar in jou hart en bring vreugdevolle danksegging tydens jou beproewinge.”

Natuurlik het die kinders van Israel wel die Here geloof en gedank, maar hulle het dit aan die verkeerde kant van die Rooisee gedoen. Die volk het die hele nag gejuig, maar God het geen behae daarin gehad nie. Enigiemand kan van dankbaarheid jubel nadat die oorwinning gekom het. Die vraag wat God aan Israel gestel het, was "Sal julle My prys voordat Ek hulp stuur, terwyl julle nog in die middel van die stryd is?"

Ek glo as Israel aan die "beproewingkant" van die Rooisee gejuig het, sou hulle nie weer by die water van Mara beproef moes word nie. As hulle die Rooisee-toets geslaag het, sou die water by Mara nie bitter nie, maar vars gesmaak het. Israel sou water oral in die woestyn sien opspring het, eerder as om dors te moes wees.

Mag God ons help om die regte lied aan die louteringskant van beproewings te sing. Dit bring die grootste vreugde vir ons hemelse Vader.

Gaan jy tans deur 'n baie moeilike tyd? Sing dan! Prys God! Sê vir die Here: “U kan dit doen. U het my voorheen verlos, U kan my nou verlos. Ek rus in blydskap.”