Om die Heilige te Aanbid

Gary Wilkerson

Sien jy ooit mense wat heilig optree? Dit is hulle wat gewoonlik vir jou sê: "Ek vas vandag." Hulle is ook gewoonlik diegene wat jou skuldig laat voel.

Die Joodse Rabbi's wat jy onder by die Klaagmuur sien, hulle lyk baie heilig. Ek bedoel, hulle trek soort van heilig aan, as daar so iets is. Ek was eenkeer in Israel onder by die Klaagmuur en 'n heilige man het na my toe gekom. Hy was baie vriendelik en het selfs vir my die sinagoge gewys, maar toe het hy aan die einde gesê dat hy vir my en my gesin sal bid en dat hy baie gewillig sal wees om my skenking vir sy sewe kinders te aanvaar.

Ek probeer glad nie beledigend wees nie, maar daardie ervaring bewys dat ons nie heilig gemaak word deur dit wat ons aanhet nie. Ons kan miskien onheilig wees oor dit wat ons aanhet, maar daar is geen ander heilige uitrusting nie, behalwe die een wat God aanhet. Dit is sy volmaakte reinheid. Dit is glinsterend en vol heerlikheid. Dit is ook nie iets wat Hy soggens aantrek nie. As Hy my pak klere kon leen, dink ek dit sou ook begin glinster, nie as gevolg van die kledingstuk self nie maar as gevolg van die heiligheid in God.

Toe Johannes, wat geskryf het oor God wat liefde is, 'n visioen van die hemel gehad het, het hy ook 'n openbaring oor God se natuur gekry. Hy het engele gesien wat sing: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” (Openbaring 4:8, AFR53).

God is nie net soms heilig nie. Hy hoef Homself nooit te bekeer nie. Hy maak nie 'n enkele fout nie. Hy sit nie sy kop neer en sê: "Vir sewe miljard jaar lank het Ek 'n volmaakte lewe gelei totdat Gary Wilkerson my kwaad gemaak het" nie. Hy het geen bekering nodig nie. Hy hoef nie dat sy Seun na Hom toe moet kom en sê: "Vader, ruk U reg” nie, want Hy is altyd, heeltemal, volkome heilig.

Daardie waarheid moet ons laat neerval soos die 24 ouderlinge wat Johannes ook in sy visioen gesien het en uitroep: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan ​hulle ​en is hulle geskape” (Openbaring 4:11). Halleluja!