Onbetwisbare Oorwinning

David Wilkerson (1931-2011)

“Daarby het die kinders van Ammon die Jordaan oorgetrek om ook teen Juda en Benjamin en die huis van Efraím te veg, sodat Israel dit baie benoud gehad het” (Rigters 10:9, AFR53).

Ammon is deur God gebruik om Israel se sondes te bestraf (sien Rigters 10:6-8). Nou het hulle leërmag teen Israel opgetrek. God se volk was bang en depressief en het begin om hulle sonde te bely. “Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag” (Rigters 10:15).

Die volk het so skuldig gevoel oor hulle sonde dat hulle nie aan enigiets meer kon dink om vir God te vra as om hulle te spaar nie. Hulle gebed was die eenvoudigste gebed: “Here, red ons net hierdie een keer. Moenie dat ons verslaan of oorwin word deur ons vyande nie”.

Hulle het vir een oorwinning gevra, maar God het meer in gedagte gehad. Hy het sy seën oor hulle uitgestort. Nie net het Israel hulle beskerming gekry nie, maar hulle het die opperhand gekry.

“Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die HERE het hulle in sy hand gegee. En hy het  hulle verslaan van Ároër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámin – ‘n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel” (Rigters 11:32-33).

Saam met die verlossing waarvoor hulle vir God gevra het, het God vir hulle die moed en leiding gegee om die Ammoniete te verslaan. Hulle was nooit weer deur hulle geteister nie; dit was volslae oorwinning. 

Dit is hoe God sy kinders vandag wil verhoor. Die meeste Christene bid: “Here, gee my oorwinning in hierdie een stryd”. Die Here antwoord egter: “Ek sal dit vir jou gee, maar Ek het baie meer in stoor vir jou”. Hy wil vir jou krag gee om nie net te oorwin nie maar alle vyande te onderwerp”. Hy sal jou help om sonde nie net te oorwin nie, maar meer as ‘n oorwinnaar te wees; om nie eenvoudig net te leef nie, maar die lewe in oorvloed te hê; nie net om blote blydskap te hê nie, maar onuitspreeklike blydskap en vol heerlikheid; om nie net vry van vrees te wees vir ‘n dag, ‘n week of ‘n maand nie – maar vir al die dae van jou lewe.