Ons Oorvloedige Krag en Blydskap

David Wilkerson (1931-2011)

Onlangs het ek tot God gaan bid terwyl ek baie swaarmoedig en oorlaai was met baie sorge. Ek het my saak voor Hom begin bepleit: “O, Here, ek was nog nooit so moeg in my hele lewe nie. Ek kan skaars voortgaan.” Ek was so moeg dat ek letterlik in trane uitgebars het. Terwyl ek gelê en ween het, het ek gedink: “My trane sal sekerlik die hart van God aanraak.”

Die Heilige Gees het inderdaad gekom en my bedien, maar nie op die manier wat ek gedink het Hy sou nie. Ek wou simpatie, bemoediging en begrip hê; en Hy het my dit alles gegee maar op ‘n manier wat baie anders is van wat ek verwag het.

Die Here het my saggies beveel om na 2 Korinthiërs te gaan. “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai: en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.

“Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.”

“En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle middadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk” (2 Korinthiërs 9:6-11, AFR53).

Ek het hierdie gedeelte gelees en weer gelees, maar ek het niks gekry nie. Uiteindelik het ek my Bybel toegemaak en gebid, “Here, ek verstaan nie. Ek sien niks hier wat my help of bemoedig nie.”

Uiteindelik het die Gees kragtig maar liefdevol met my innerlike mens gepraat: “David, dit het alles te doen met dit waardeur jy gaan. Deesdae dien jy My sonder ‘n milddadige, opgewekte gees! Waar is jou blydskap en vreugde in jou diens aan my? My Woord praat nie net daaroor om geld te gee om die armes mee te help nie. Dit praat van bediening aan My en aan my liggaam! Ek het jou geroep na New York Stad, en Ek het jou nie sonder hulp of oorvloedige bronne gestuur nie. Alles wat jy nodig het, is tot jou beskikking: krag, rus, krag, vermoëns, blydskap en vreugde. Daar is geen rede vir jou om met hartseer te arbei nie, om oorlaai te wees nie. Jy het toegang tot alle krag en blydskap!