Onthou Ons Eerste Liefde

Gary Wilkerson

Miskien onthou jy Efese in die Nuwe Testament; dit was een van die grootste kerke van daardie tyd. Dit het alles begin toe Apollos vir 12 mense gepreek het, waarna die apostel Paulus ook daarheen gekom het. Daar was 'n beweging van die Heilige Gees en toe het 12 in dosyne verander, toe honderde en toe duisende. Die geskiedenis vertel ons dat daar binne 'n paar dekades ongeveer 60 000 Christene in Efese was.

Die apostel Johannes was die herder van die Kerk van Efese rondom die jaar 90 nC, toe keiser Domitianus gekom het om tempels van aanbidding vir homself te bou. As jy Openbaring bestudeer het, weet jy daar is 'n merk van die dier wat kom. In die 1ste eeu was daar egter 'n ander soort merk. Voordat jy in die agora, die plek van aankope, kon binnegaan, moes jy jou vinger in die as van 'n offerande aan die afgod van Domitian steek en dan moes jy daardie as op jou voorkop smeer. As jy dit gedoen het, is jy toegelaat om in te gaan en aankope te doen.

Die apostel Johannes het geweier om hieraan deel te neem, en keiser Domitianus het hom na die eiland Patmos verban. Terwyl Johannes op hierdie eiland was, het Jesus vir hom boodskappe vir die vroeë kerke gegee. Hierdie briewe is belangrik omdat dit waarskynlik ongeveer 40-50 jaar was sedert Christus op die aarde gewandel het.

Hoeveel van julle ken die gevoel daarvan om Christus vir 'n dekade, of dalk baie dekades te volg? Sonder dat ons dit eers weet, dwaal ons soms 'n bietjie af. Ons verloor die passie van ons eerste liefde, maar ons sien dit nie raak nie, want ons is so besig en ons "om-te-doen" lys hou ons besig. Ons word nie meer in ons harte aangeraak vir die heerlikheid en krag en teenwoordigheid van God nie. Is dit jy?

As Jesus vandag vir jou 'n brief sou skryf, wat sou Hy te sê hê?

Ons is niks sonder Jesus nie. Daar is geen krag in ons wysheid of ons eie sterkte nie. Die Skrif sê: “So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken...” (Jeremia 9:23-24, AFR53). Ken en verstaan jy die Here passievol? Soek jy Hom dag en nag? As ons dit nie doen nie, of eens op ‘n tyd het, maar onlangs vergeet het, kan ons vandag nog begin.