Op die Rots Bou

David Wilkerson (1931-2011)

As jy sê dat jy 'n Christen is en dat jy Jesus liefhet en in gehoorsaamheid aan Hom lewe en tog verwaarloos jy Hom dag na dag deur nie te bid nie, ken jy Hom nie regtig nie. Jou huis is nie op die rots nie; dit is op sand, en dit gaan heeltemal in duie stort in moeilike tye.

Jy kan Jesus nie net leer ken deur kerk toe te gaan nie. Jy moet 'n dag-vir-dag, uur-vir-uur gesprek met die Here hê. Jy moet Hom leer ken, toeneem daarin om Hom lief te hê en begeer om te weet wat Hom behaag.

Te dikwels beskou ons die Here se gebooie as iets lastigs, wat perke stel aan ons persoonlike vryheid. Eerder as om sy woorde aan ons te omhels, soek ons na maniere om dit te omseil. Ons verdraai God se genade deur dit te maak asof dit 'n soort tonnel uit die tronk van sy wet is, maar genade is eintlik 'n leermeester van heiligheid. “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12, AFR53).

Die mens op die rots omhels en vervul die Here se opdragte met vreugde. Hy sien God nie as iemand met 'n lat in sy hand, altyd gereed om hom te tugtig nie. Nee, hy sien die Here as een met arms na hom toe uitgestrek en sê: “Kom na My toe en ontvang die lewe, ontvang krag. Ek sal jou deurdra”. God se Woord wys vir ons wat dit verg om te bou op die rots van ons verlossing.

Henog het God gehoorsaam met die uitsluitlike doel om Hom te behaag. “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom geneem het; want voordat sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het” (Hebreërs 11:5 ). Henog is weggeneem omdat hy die Here behaag het.

Die apostel Johannes sê: “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22), of “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openbaring 4:11).