Passiewe Geloof
Abram is deur God geroep om sy huis, sy land, sy vader, sy moeder, sy opvoeding en sy erfenis te verlaat. Hy het dit alles verlaat en na 'n land gegaan deur God se leiding (sien Génesis 12).
Watter geloof! Dit verg fenomenale geloof om alles agter te laat en dadelik, heelhartig te reageer op die woord wat 'n mens in sy hart hoor, of dit nou 'n hoorbare of 'n innerlike stem is. Abram het dit egter gedoen, en hy het vertrek en sy jong broerskind met die naam Lot saamgeneem.
“Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan” (Génesis 13:8-9, AFR53).
Abram het wat ek 'n passiewe geloof noem, gebruik. Ek bedoel nie passief in die sin van "Ek gee nie om nie" of "Que sera, sera - wat ook al sal wees, sal wees" nie. Hierdie tipe passiewe geloof sê dat jy nie namens jouself optree nie. Jy sal nie probeer om dinge deur die wil van die mens te laat gebeur nie. Jy sal God toelaat om die gebeure in jou lewe so te orkestreer dat sy plan verwesenlik sal word.
Daar is tye in die lewe waar ons daardie tipe passiewe geloof moet hê, wanneer daar niks anders is wat ons kan doen nie as om te sê: "God, u wil geskied, nie myne nie".
Passiewe geloof kyk na situasies wat onmoontlik lyk en sê: “God, ek weet nie of dit ooit sal uitwerk nie. Ek weet nie hoe enige van hierdie probleme en swaarkry wat ek beleef ooit opgelos sal word nie, maar ek stel my vertroue in U”.
Abram het die vertroue gehad dat God na sy beste belange omsien en dat God beter geweet het as wat hy self geweet het. Abram het nie net in die Here gerus nie, maar hy het vertrou dat God die regte besluit vir hom sou neem.