Saam met God in die Storm

Carter Conlon

Ek dink die mees goedhartige ding wat die Here vir sy kerk kan doen, is om ons in ‘n posisie te plaas waar ons moet bid, ‘n posisie waar ons mekaar nodig het, waar ons uiteindelik sal besef dat dit maak nie saak van watter denominasie die ander persoon is nie, ons is almal saam in dieselfde bootjie en stry dieselfde stryd. Dit is die groot goedheid van die Here.

God doen dit vir die eer en verheerliking van sy Naam, Hy doen dit om die kerk weer sterk te maak, om ontslae te raak van dit wat haar verswak het, om ‘n regte fokus in haar te prent sodat die krag en deugde van Christus weer uit haar kan begin vloei.

Sy bruid sal weereens spreek met gesag in haar mond, doelgerigtheid in haar oë en blydskap in haar hart. Dit is die barmhartigheid van God dat Hy swaarkry en lyding oor ons pad bring en ons stroop van ons geriewe. Ja, oordeel kom oor die hele wêreld, maar genade gaan oordeel vooruit en triomfeer daaroor (sien Jakobus 2:13). God is gewillig om ons in ‘n posisie te bring waar ons ons ware toestand besef. Hoe tragies sou dit wees vir ons om te leef asof alles reg is, net om te ontdek dat ons die hele doel gemis en vasgesteek het net voor die poort na die ewige lewe terwyl ons ‘n kulturele Christenskap geleef het met geen werklikheid daaragter nie?

Die Skrif sê: “Onderwerp julle aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Reining die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges” (Jakobus 4:7-8, AFR53).

As ons kies om onsself nie nou te verneder en toe te laat dat die Here met hierdie sake in ons harte afreken nie, sal ons eendag dit wat duidelik slegs as oordeel sal staan in die oë moet kyk.

As jy rondom jou kyk en alles in duie sien stort, skep moed! Ons is op die punt om God te ontmoet in die storm. Moenie toelaat dat jou vrees vir die golwe veroorsaak dat jy uitmis op dit wat Hy vir jou wil sê!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.