Sal Jy die Roeping Aanvaar?

David Wilkerson (1931-2011)

God se Gees het nog altyd die mensdom na Hom toe geroep, tot heiligheid, reinheid van hart, ‘n afgesonderde lewe; en net sommiges in elke geslag het hierdie roeping aanvaar. Josef het op ‘n vroeë ouderdom gereageer; sy tien ouer broers het dieselfde roeping ontvang, maar hulle het verkies om in die wêreld te bly.

Op ten minste twee geleenthede, het al Jakob se seuns duidelik die Gees se roepstem gehoor. Die eerste was toe Jakob ‘n altaar vir die God van Israel gebou het (sien Génesis 33:18-20). Jakob het sy seuns na die altaar geroep om saam met hom te kom aanbid, maar Josef se broers het hulle eerder gewend tot wraak en bloedvergieting.

Die tweede keer was by Bet-el. Jakob het geweet sy seuns was afgodies en daarom het hy hulle gewaarsku: “Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan” (Génesis 35:2-3, AFR53).

Dit is een van die duidelikste roepings in die hele Woord van God. Die frase “trek ander klere aan” in Hebreeus, beteken ‘n sedelike en geestelike reiniging van die gedagtes en hart.

Uiterlik, het Jakob se seuns hulle onderwerp – “Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is” (Génesis 35:4) — maar hulle bekering was slegs oppervlakkig. Hulle het eenvoudig net weer teruggegaan na hulle rebellie. Josef was anders; sy bekering was uit die hart uit. Te midde van ‘n goddelose, bose omgewing, het Josef skoon hande en ‘n rein gees gehad.

Eendag, het Josef na die veld gegaan om sy broers te help om die familie se vee op te pas, maar hy was bedroef toe hy hoor dat sy broers met soveel kwaadwilligheid gepraat en opgetree het. Sy hart was verpletter deur die goddeloosheid in sy eie familie, en hy het na sy vader teruggekeer (sien Génesis 37:1-4).

‘n Kenmerk van die Josef Geselfskap, is dat hulle treur oor sonde. Hulle het hulle afgode laat staan en is lief vir Jesus en sy heiligheid. Hulle word bo alles bedroef oor sonde in die kerk. Hulle roep uit: “Here, kyk na wat onder u kinders gebeur!” As jy soos Josef is, sal jy sonde nie kan verdra nie. Jy sal sê: “Ek kan nie verdra wat hulle aan u Naam doen nie!” Jy sal bid, nie teen mense nie, maar teen die inbreuk wat Satan op die kerk maak. Jy sal bid dat geregtigheid sal seëvier.