Sit Eers Jou Eie Masker Op

Gary Wilkerson

Jy weet mos wanneer jy op 'n vliegtuig klim, begin die lugwaardin instruksies gee in geval van 'n ongeluk? Wat sê hulle vir ouers van jong kinders? Dit is reg. “As daar 'n verandering in die kajuitdruk is en die suurstofmasker kom uit, sit jou eie masker eerste op”.. So selfsugtig as wat dit klink, moet dit in daardie volgorde gedoen word. Lewens kan daarvan afhang.

Of stel jou voor: jy sien 'n brandende gebou omring met brandweermanne wat brandslange afrol en lere opstel. Skielik sien jy een van hulle klim op 'n leer in die rigting van die brandende boonste verdieping, maar hy het geen brandpak, geen stewels, geen masker en geen jas nie aan nie. Sy kollegas op die grond roep hom waansinnig om terug te kom en sy brandpak aan te trek voordat hy ingaan. Watter brandweerman sou dit doen? Niemand wie ek ken nie. Sonder sy toerusting is 'n brandweerman en die desperate mense in die brandende gebou almal verdoem.

Glo dit of nie, ons verval dikwels in hierdie gevaarlike gedrag, net op 'n ander manier. Ons probeer om mense te versorg as ons swak toegerus is om dit te doen. Ek het dit self gedoen, met voorspelbare resultate. Waarom leef ons asof ons, sodra ons 'n ouer, kerkleier of versorger word, outomaties met bonatuurlike mag toegerus is?

Ek het onlangs met die direkteure van 'n bediening met die naam Father's Love gesels. Hulle werk met kinders in gevaarlike en in moeilike omstandighede waarvan die geestelike en emosionele suurstofvlakke gevaarlik laag is. Die lang pad na 'n gesonde volwassenheid lê voor, en dit is hul versorgers se plig om te verseker dat hulle goed gevoed is. Om dit te kan doen, sê hulle, moet die versorgers self in 'n goeie toestand wees.

Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie, veral nie vir diegene wat verantwoordelik is vir die welstand van 'n jong persoon nie. 'n Oorwerkte, gespanne ouer moet stop en tyd maak, selfs al is dit bietjie vir bietjie, vir hul eie versorging. Jy kan die kind nie verder neem as jouself nie.

Voel jy traag in liggaam, siel en gees? “Kom na my toe”, sê die Here. Maak dit vandag jou nommer een prioriteit om tyd alleen saam met Hom deur te bring. Vra Hom om jou die pad terug te wys na krag en herstel. Lees Psalm 23 hardop. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel” (Psalm 23: 2-3, AFR53). Lees dit dan vir jou kinders.