Teenstand Beleef teen ‘n Stap van Geloof

Carter Conlon

Toe God die eerste keer 'n oop deur voor my gestel het om 'n kerk te lei, het ek nee gesê. Hy het gereeld met my gepraat oor daardie oop deur, maar ek het my loopbaan by die Ottawa-polisie gehad. Om dit prys te gee sou beteken dat ek geld verloor, my staatspensioen, my kollegas se respek en die sekuriteit van al hierdie dinge.

Eendag het ek by 'n venster uitgekyk en drie of vier mossies in die sneeu sien pik. God het weer gepraat: “Ek sorg en voorsien vir hulle. Glo jy nie dat Ek des te meer vir jou sal sorg nie?”

Daardie besluit om die leiding van die kerk oor te neem was steeds nie maklik nie. Mense het gedink ek is mal. My pa het vir my gesê: “Wanneer daar nie kos is om jou gesin te voed nie en geen melk in die yskas vir jou kinders nie, moenie na my toe kom nie. Ek sal jou nie help nie. Wat jy doen is dwaas.” Dit was 'n bitter pil om te sluk. Twee van my mede-Christen-polisiebeamptes was nogal uitgesproke oor hul teenkanting. Hulle het my Christelike verantwoordelikhede teenoor my vrou en drie kinders bevraagteken. "Jy gaan jou gesin laat swaarkry".

Eendag het ek by die hysbak uitgestap en van aangesig tot aangesig met 'n beampte in uniform gekom. Ek het hom net goed genoeg geken om te weet hy was nie 'n gelowige nie. Hy het sy hand uitgesteek en my omhels. Niemand gee mekaar ‘n drukkie in die openbaar in die Frans-Kanadese Ontario-Quebec Nasionale Hoofstadstreek nie! Hy het teruggetree en deur mistige oë na my gekyk en gesê: “Ek stem nie saam met wat jy glo nie, maar jy het guts, man. Ek respekteer dit.”

Toe hy in die hysbak klim en sy gang gaan, het ek vir 'n oomblik daar gestaan en besef die eerste aanmoediging wat ek ontvang het om in geloof uit te stap, kom van 'n ongelowige.

Ek was terdeë daarvan bewus dat daar waarskynlik 'n krans aan die ander kant van my oop deur was. Ek was nie blind nie. Ek het geweet dat God my sou moes onderhou. Ek het gevoel soos Petrus wat uit die boot klim. Daar was niks in die natuurlike om my te ondersteun nie. Van die oomblik dat ek uit die boot geklim het, was die reis wat God my egter voorgehou het, ongelooflik om te aanskou.

“Kyk na die voëls van die hemel; want hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:26).