David Wilkerson (1931-2011)

“Kan ‘n jonkvrou haar versiersels vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32, AFR53).

Ek haal hierdie vers aan elke keer as ek my daaglikse gebedstyd misgeloop het omdat ek te besig was. Dit dryf my altyd terug na die binnekamer om uit te roep: “O, Here, ek wil U nie vergeet nie!”

Hierdie vers is selfs meer angswekkend wanneer ons die konteks van die gedeelte beskou. God herinner sy volk dat Hy hulle geplant as ‘n edele wingerdstok van egte saad. Hulle het op die regte pad begin met sy seën, maar nou het hulle Hom verlaat.

“Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie...Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? ...Want hulle het My die rug toegekeer... Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; hulle het geen tugtiging aangeneem nie... my volk het My vergeet; dae sonder tal” (Jeremia 2:19-32).

God se volk het nie langer na Sy huis gegaan om Hom te aanbid nie. Hulle het lui geword in die dinge van God en al Sy seëninge en oordele oor hulle vergeet. Hulle het Hom vir dae sonder tal verwaarloos en hulle eie plesier nagejaag; en die ergste van alles, hulle het gesê: “Ek is tog onskuldig...Ek het nie gesondig nie” (Jeremia 2:35).

As jy God nie aanbid met jou hele verstand en hart nie, sal verwaarlosing bietjie vir bietjie insluip en jy sal net uit gewoonte begin bid.

Jy sê dat jy Jesus liefhet en daarom moet ek vir jou vra: Aanbid jy Hom daagliks, met jou hele hart met niks wat jou aandag aftrek nie? Delf jy in die Woord van God asof jou lewe daarvan afhang, of gaan jy vir dae lank sonder om jou Bybel oop te maak en sonder gebed tot Hom in jou binnekamer?

God sal jou nie toelaat om langer in jou sitplek te sit en jou gedagtes te laat ronddwaal nie. Hy het jou lief en Hy ken die krag wat rein aanbidding in jou gees vrystel. Dit maak jou sterker as enige leeu en groter as enige reus. Dit breek alle vestings af omdat dit jou ‘n reinhartige, doelgerigte aanbidder van Hom maak.