‘n Getuienis van Volkome Vertroue
Teen die einde van die boek Génesis het God gekies om 'n klein, onbeduidende volk te lei. Hy wou 'n volk oprig wat voorbeelde van sy goedheid vir die heidense wêreld sou wees. Om so 'n getuienis te bewerkstellig, het God sy volk na plekke geneem wat buite hul beheer was. Hy het Israel geïsoleer in 'n woestyn waar Hy alleen hul lewensbron sou wees en in hulle behoeftes sou voorsien.
Israel het geen mag gehad oor hul oorlewing in daardie verlate plek nie. Hulle kon nie die beskikbaarheid van voedsel of water beheer nie. Hulle kon nie hul bestemming beheer nie, aangesien hulle geen kompasse of kaarte gehad het nie. Hoe sou hulle eet en drink? Watter rigting sou hulle inslaan? Waar sou hulle uiteindelik beland?
God sou dit alles vir hulle doen. Hy sou hulle elke dag lei met 'n wonderwolk, een wat snags gloei en die duisternis voor hulle verdryf. Hy sou hulle kos gee uit die hemel en hulle van water voorsien uit 'n rots. Ja, elke behoefte sou deur die Here voorsien word en geen vyand sou hulle kon verslaan nie.
“Uit die hemel het Hy jou [Israel] sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor (Deuteronómium 4:36, AFR53).
Die nasies rondom eertydse Israel was vol 'ander gode', afgode gemaak van hout, silwer en goud. Hierdie gode kon die mense wat hulle aanbid, nie liefhê, lei of beskerm nie. Enige van die nasies kon egter na Israel kyk en 'n spesiale volk, wat God deur 'n verskriklike woestyn gedra het, sien. Hulle sou 'n God sien wat met sy volk gepraat het, wat liefgehad en gevoel het, wat gebede verhoor en wonderwerke gedoen het. Hier was 'n lewende God, een wat sy volk in alle besonderhede van hul lewens gelei het.
God het 'n volk opgewek wat deur hom opgelei sou word. Daar moes 'n volk wees wat onder sy gesag geleef het, wat Hom volkome sou vertrou en hom volle beheer sou gee oor elke aspek van hul lewens. Daardie volk sou sy getuienis vir die wêreld word.