Twee Soorte Liefde

David Wilkerson (1931-2011)

Die Vader het twee soorte liefde: 'n algemene liefde vir alle sondaars en 'n spesiale liefde vir almal wat aan sy familie behoort. God se algemene liefde vir die mensdom kan aangegryp word deur enigiemand wat deur bekering na Hom toe kom, maar God se hart is ook gevul met 'n kenmerkende, uitsonderlike liefde vir sy kinders.

God het nog altyd 'n uitverkore volk vir homself gehad aan wie Hy sy groot liefde geskenk het. Israel was eens die enigste voorwerp van hierdie spesiale liefde: “Want jy is 'n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke  wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei...” (Deuteronómium 7:6-8, AFR53).

God het hierdie woorde aan Israel gerig. As jy egter Jesus as jou Verlosser en Here aanvaar het – as jy in God se familie aangeneem is, en Hy jou liefdevolle Vader is – moet jy ook besef hoe spesiaal jy vir Hom is!

Jy is die ontvanger van God se buitengewone liefde en sy woorde aan jou is: “Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is” (1 Petrus 2:9-10).

Eens was jy nie 'n voorwerp van sy spesiale liefde nie, maar nou is jy! Jy is met die Vader versoen, en Hy het jou nou, op hierdie oomblik, innig lief. Hy het sy liefde op jou gerig en Hy het 'n welbehae in jou.