Onophoudelike Passie om God te Soek

David Wilkerson (1931-2011)

In hoofstuk nege van Handelinge word ons vertel dat die Heilige Gees na 'n godvresende man met die naam Ananias gekom het. Die Gees het hom opdrag gegee om 'n man met die naam van Saulus te vind, die hande op hom te lê en sy sig te herstel. Ananias het Saulus se reputasie geken. Hy het geglo dat dit gevaarlik sou wees, maar die volgende is hoe die Heilige Gees Saulus by Ananias aanbeveel het: "Want kyk, hy bid" (Handelinge 9:11, AFR53).

Die Here het in wese gesê: “Ananias, jy sal hierdie man op sy knieë vind. Hy weet jy kom. Hy ken selfs jou naam en waarom jy na hom gestuur word. Hy wil hê sy oë moet herstel word.”

Wanneer het Saulus hierdie innerlike wete ontvang? Hoe het hy hierdie suiwer woord van God ontvang? Dit het gekom deur vurige gebed en smeking. Trouens, ek glo dat die woorde van die Gees aan Ananias openbaar wat dit was wat God se hart oor Saulus aangeraak het: "Want kyk, hy bid." Saulus was drie dae lank by God afgesonder en het alle kos en water geweier. Al wat hy wou hê, was die Here en daarom het hy op sy knieë gegaan en gebid en God gesoek.

Toe ek grootgeword het, het my predikervader my geleer: “God maak altyd 'n weg vir 'n biddende man.”

Daar was tydperke in my lewe waarin die Here onteenseglike bewyse hiervan gelewer het. Ek is op agt jaar geroep om te preek toe die Heilige Gees oor my gekom het. Ek het gehuil en gebid en uitgeroep: "Vul my, Here Jesus." Later, as 'n tiener, het ek gebid totdat die Gees met goddelike intensiteit oor my gekom het. As jong predikant het 'n diepe honger in my opgewel. Iets in my hart het vir my gesê: "Om Jesus te dien, gaan oor meer as wat ek besig is om te doen." Ek het maande lank op my knieë deurgebring en ure aaneen geween en gebid en toe het die Here my uiteindelik geroep om na New York te gaan om bendes en dwelmverslaafdes te bedien.

As ek ooit van God gehoor het – as ek enige openbaring van Christus het, enige mate van die gedagtes van Christus – het dit nie net deur Bybelstudie alleen gekom nie. Dit het gekom deur gebed. Dit het gekom deur God in die binnekamer te soek.

Wil jy 'n voller mate van die Gees en die teenwoordigheid van God hê? Soek sy aangesig in gebed. Soek Hom onophoudelik en hartstogtelik. Deur vurige gebed en smeking sal jy God se gedagtes en wil vir jou lewe vind.